Theo Wassenaar (1892 – 1982)
O magtige oseaan, jy wydgestrekte,
Omsirkel deur die ongemetenheid,
Diep in jou boesem rus die onontdekte;
Alleen jou swaar gehyg verneem die tyd.
O nooitvermoeide see wat immer-woelend,
Getye reël na gange van die maan
En op die storm se stem onstuimig spoelend,
Jou branders op die rotse stukkend slaan!
O ewige deining van die Grote en Magtige!
So dein die breed sterk stroom van volle lewe
In my klein hart. Ek nietigste kristal,
Ek mag ook speel met glans van die ewig-pragtige.
Die skepping het ook my sy doel gegewe:
Een polsslag in die ritme van die Heelal!
Die gawe om met woorde só te skilder dat dit in my hart weergalm