Gedig: Skilder met woorde

Argieffoto (Foto: Birgit Böllinger/Pixabay)

Johan Myburg (Geb. 1957)

1
na ʼn litografie met Sam Nhlengethwa

Om tuis te kom ná ʼn lang dag se werk,
ag of wat ure weg van die huis,
sonder om te weet hoe die son skuif
oor die dak, hoe hadidas op die nok
sit en hoe-ha, hoe ʼn ranker by die dag
geiler neig om ʼn vensterraam.
Om skemer tuis te kom, ʼn deur oop
te stoot, ʼn vertrek te groet, ligte aan
te knip: behaaglike poele lig oor prente
matte ʼn sofa ʼn stoel die haaks hoek
waar vloer en muur ontmoet en plafon
en muur, die gaafheid van ʼn deurknop
onderhand, ʼn deur wat perfek geskarnier
in ʼn kosyn inglip. Om my te verstom
aan die argitektuur van geborgenheid.
Om tuis te kom.

Uit:
Uittogboek, Myburg se vierde digbundel, het in 2017 by Protea Boekhuis verskyn en is vanjaar met die Hertzogprys vir poësie bekroon. Die gedig is goedgunstig deur die uitgewer verskaf. Klik hier om die bundel te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.