DF Malherbe (1881 – 1969)
Wat is die slaap ʼn wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.
Vir laas beef oor haar lippe ʼn fluistering:
“Nag, Pappie.” Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak:
in vaderarms rus my lieweling.
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.
O, maar dit bly ewig mooi in die wondersoetste taal!
NET so Eish – wie wil dan waai uit SA?! Ek wil dit heeldag hoor – op radio en om my op tv en oral. Lees in tydskrifte en koerante en boeke sonder verlange. Wil dit nie net hoor by ‘n paar mede-padgeers in NZ of waar ookal nie, maar hier waar ek gebore is en sal sterf!