Gedig: Snoektyd

(Foto: Adrian Venter)

ID du Plessis (1900 – 1981)

Die Kaap is weer dooddollie,
Die bloudam vol blinklywe,
Vanaand eet ons in Roosstraat
Snoekentjies en ywe.
Voor sonop span ons Lightning in
En ry die heuwel af.
Hy’s agtien jaar, maar kan nog deur
Die Kaapse strate draf.
En Doeltjie blaas die beuel
Wat soos ‘n maagsiek spook
Die mense van die Onder-Kaap
Oenang om te koop.
Die mootjies is weer volop,
Die motjie skuur die pan
En bak die vis so lekker
Soos net ons motjies kan.
Kyk hoe kom die skuite aan,
Diep met hul vrag, by Roggebaai.
Die booia praat weer van die dag
Toe syne daar was, só gelaai.
Die Kaap is weer dooddollie,
Die bloudam vol blinklywe,
Vanaand eet ons in Roosstraat
Snoekentjies en ywe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.