Gedig: Somtotaal

Argieffoto

Argieffoto

Louis Esterhuizen (Geb. 1955)

Ag, koggel jy soms nog –
Tog jammer dat ons nie jare gelede
toe ons steeds jonk en jonger was
ledemate kon kruis nie… O, nee! roep ek dan –
Waarom vra vir sóveel
minder?

Want soms kyk ek tog na foto’s van jou
toe jou oë grondig mooi, dog waaksaam
was, foto’s van jou toe jou mond huiwerig ʼn glimlag
vir die onsigbare fotograaf kon laat
gebeur. Ja, foto’s is daar wel waar jou lyf
sonbruin en letselvry
blyk te wees.

Maar nou is daar die wins van kwinkslae
om jou oë, die spoortjies van sonstreke op skrefies
bekyk (O, die sagter lig van verwonding!). Nou is daar
ʼn mond fermvry, die soenrype vrug
altoos gereed vir lag en jou oor, haarfyn op die luister
ingestel. En jou lyf, dié dra wel die tekens
van ontkomings – nouer soms, wyer
elders: Dog elkeen die merk van oorlewing, die lyf
waarmee gelewe is
vir soveel jare
plus –

Ja, dit alles. Die somtotaal van ʼn lewe
wat jou in my arms geplaas het om lief te hê
met die deurwinterde slotsom
van jare.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Dina van Niekerk ·

KARLIEN :

Louis Eserhuizen vat dit só goed vas : Mooi vergaan, deug bly staan. Hartseer is dit
dat tyd so vinnig beweeg. Voor jy sien, is jy dáár – troos: werk elke dag aan die innerlike mooi. Vergeet die cliché!

KARLIEN :

Ancara ·

Pragtige gedig.Ek het al baie daaraan gedink my man kan jy nie ook sulke mooi gedigte vir my skryf nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.