Gedig: Sonkol op ʼn wingerdstam

(Foto: David Köhler/Unsplash.)

Sheila Cussons (1922 – 2004)      

ʼn Handvormige kol sonlig, ʼn ingedagte hand,
streel oor die wingerdstam; bloudonker
kronkelstam, net waar die kol is ʼn malvakleur.
Sag en lewend roer dit –
Hoe oud was ek toe ek ophou gryp het
na sonkolle, wat uit hul eie gewillig op jou oop
handpalm, mak en warm sal sit, totdat jy vinnig
vuismaak om ʼn koggel-sensasie van niks.
Dinge is daar wat jy net besit solank jy hulle nie
probeer hou nie. Hoe dikwels het ek
die wrede willekeur wat terg met gee en wegklap,
met alles in my woordeskat en kindertrane verwens!
Ek het meer woorde nou, en dinge is daar wat kom
vanself, onbegeer, en hulle bly: spyt, berou, selfverwyt,
sinisme en nugterheid –
My blik verswerm tot ʼn binnesien, wat nadat alles in
donker ontbind het, met anders as aardse lig
nog lank, bestendig en eensaam, op die wingerdstam sal kol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.