Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
My hande was van altyd af onpaar:
skraal, vroulik en beskeie is die linker,
haar maat is ferm, grofgekneukeld, flinker,
maar net so links met greep, groet of gebaar.
Verwonderdheid, besinning, wanhoop, angs,
die dinge wat die bloedstroom plotseling strem,
dryf hul soms saam in asemlose klem,
maar dan los elk, verleë, gou sy vangs.
Selfs in die voorgeboortelike vog
het hulle onafhanklik rondgeroei
en was nooit waarlik aan mekaar verknog.
Ek twyfel of hul ooit behoorlik tuis
kan raak of tot eenparigheid sal groei
vóór iemand hulle oor my borskas kruis.
Aaai, so mooi! Dankie Maroela.
Beslis mooi, ja, (en ek hou daarvan) maar: dis al wat dit is. Weet nie wanner issit geskryf nie, want vir my klink dit al asof mens nie diep, nadenkend ge laat word nie? Asof dit uit ‘n vroeere era dateer? Die styl is erg argaies.