Louis Esterhuizen (Geb. 1955)
By afloop van die dag
bly alleen die see van hier na einder
witgespoel, die soom van sand
agtergelaat met verliefdes
se ingehaakte spore, nou elders heen
Vir ʼn wyle nog, die lig
in lustelose golwe, dan weg: opgelos
in ʼn donker wat van iewers
boontoe sprei, om wat netnou nog
kleur was, tot klank te verdiep
Die klotserige bote langs die kaai
ankerkettings se gekreun, skeepsligte
ver uit op see, die ritme van eb en weg
En in my arms, die lig wat jy is,
die ruising van stem: Waar, vra ek jou –
dié ruimtes om jou, waar kom dit vandaan
En hoe diep strek dit om ons heen
Dit is so mooi!! :-)