SJ Pretorius (1917 – 1995)
Hul sit in groepies, peinsend-stil.
Daar is die reuk wat eie is
aan die fabriek. Die lig val kil
bo by die hoë vensters in.
Party rook, ander sit so suf:
hier’s ʼn gesig, glimmend en wit,
nerveus-gespanne, oë fel;
intelligent en fyn van snit.
Daar is een rooi en grof, omhul
in dampe pyp-tabak. Een groot,
blas, rond en met die tande geel,
tuur, met die pet ver t’ruggestoot.
Daar’s baadjies bruin en blou en groen
en grys geruite hemde, ook
groen jersies met die polo-hals
en grys pull-overs liggestrook.
Bruin skoene… met die veters mooi
gestrik en bo-op vasgestrop
met gespes aan ʼn dik leerband.
Daar, met die hare oor die kop
afhangend na sy oë, stut
ʼn seun homself sit-lêend op:
hy rook, die oë halfpad toe
en hou traag die gekringel dop
wat van die sigaret af styg;
dood-onverskillig, half aan droom,
sy sye hemp lig-koel en oop,
sy bene en bruin sandale loom
oorkruis… En die masjinerie
staan rondom, glimmend-swart en groot
soos donker diere stug en stom
wat slaap… stil soos die dood.