Ester le Roux (vir Esterbeth)
Die jaar loop uit op smal skouers
Haar oë talm tussen blaaie vol ou en nuwe hale
voor sy die oorskietkos vir die hondjie krap
en die bodeur toetrek
Breekware en kersnote klingel met die opruim
Sy spoel haar skottelgoed skitterblink af
en in die skemerlig blom krismisrose deur die venster
Gangaf hang portrette van geslagte
en haar kinders kom in en uit by deure
Vanaand stap sy verby
tot by die Moeder van alle kinders
om in die volheid van tyd
alles te oordink