Gedig: Teksture van hier

Argieffoto (Foto: 70154, Pixabay)

Argieffoto (Foto: 70154, Pixabay)

Zandra Bezuidenhout (Geb. 1945)

My pad loop terug, altyd terug,
na die boere met die bakkies
en die velskoene,
na ‘n skuurdans en volmaan –
boerklonge en soene wat smaak na koffie
en twak deur hulle snorre
soos karoobos of hoëveldgras.

Dis genoeg om voor huis toe te kom:
manne in koöperasiehemde
met arms soos windlaaiers
wat draai as hulle praat –
en om hulle die klank van die stalle
of die walms van mos.

O, vir die stof
en die boude van boere op trekkers
wat saai by Caledon
of oes by Delmas –

vir julle kom ek altyd
terug met die grootpad
na die afdraai by Uitdraai,
duskant die dam waar die grondpad
en boorde eers was.

Interkontinentaal gesproke
is dít waar ek pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Valie ·

More Zandra, dankie dit is baie goed. Toevallig het ek op Delmas grootgeword tussen die jare 1956 tot 1974.
Die foto by jou gedig is van ‘n 1956 (omtrent daardie jaar) Case trekkertjie. My Oupa Hennie Ellerman het presies dieselfde een gehad, dit is waarmee hy sy boerdery begin het in die Grootvlei omgewing.
Die trekkerthie moes met petrol aan die gang gesit word, en wanneer die enjin loop, word dit oorgeskakel na kragparafien. Die trekkertjie het jare lank die hele plaas (+- 250 morg) se werk hanteer, en die dorsmasjien getrek met ‘n lang band. Meer onlangs was dit deur my oom gebruik om soms ‘n groot volume water te pomp uit sy sterkste boorgat. Ek het die trekkertjie egter baie jare laas gesien, maar die herinnerings van mense en plekke wat ek liefgehad het bly altyd naby. My oom is vanjaar op 1 November in Balfour oorlede.

“Where is the heart that do’th not keep
within it’s inmost core…
Some fond remembrance, hidden deep
Of days that are no more.
Ellen Clementyne Marlow (1829-1899)

Valie ·

Zandra, dit is baie goed. Die foto by jou gedig is van ‘n 1956 (om en by daardie jaar) Case trekkertjie, my oupa Hendrik Ellerman wat in die distrik Grootvlei geboer het het presies so een gehad. Die trekkertjie moes met petrol aan die gang gesit word en dan na kragparafien oorgeskakel word. Dit het vir jare lank al die werk op die plaas hanteer. Ek onthou nog dat dit die dorsmasjien getrek het met ‘n baie lang band. Later jare het my oom dit gebruik om water uit sy hoë kapasiteit boorgat te pomp. Ek het die trekkertjie jare laas gesien maar die herinnering wat dit terugbring van mense en plekke waarvoor ek lief was is prysloos….
My oom is op 1 November 2016 oorled, dit was die einde van ‘n era waarvan hierdie trekkertjie ‘n groot deel was.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.