Louis Eksteen (1930 – 2001)
Ek lag my ʼn roos
wat ooptrek in die dou.
Ek rol my op: ek duisendpoot
wiel-wiel in die paadjie af:
hopla oor ʼn klip
hiepla! deur ʼn knik –
ek trek my regop, langdun uit:
erdwurm natterig deur die grond
ug-ug die duister deur
waar kom ek uit?
ek kom nie uit,
ʼn deel bly in die grond, nederig,
en ek helfte-helfte nou as mier
dan as spinnekop
dan as gogga-dit en gogga-dat
en ek bêre my so dan en wan
in die miklyf van ʼn nagmuskiet.