Gedig: Twee kleuters in Vondelpark

Argieffoto (Foto: Joshua Clay/Unsplash)

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Twee kleuters in die Vondelpark bly staan
ʼn klein oneindigheid land hand-in-hand.

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:
gesplete hart van hals en dubbelhals,
geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,
geslote snawel dynserig vervals
met eenkant lug en water anderkant.

Versadig van die roerlose gesig
pluk hy – die seuntjie – plotseling aan haar hand
vir verdergaan, sleep haar tot ewewig
as sy nog strompelend omkyk na die swaan.

Verby die bome druis die straatrumoer.

Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
bromfiets tot motor, sal hy konstateer
– die wiel sy odeteken – dat hy lid
is van die kollektiewe Lilliput.

Maar sý sien webbe onderwater roer.

Miskien is dit die laaste dag van staar
en grondelose verwondering.  Wat sou
hý, weerloos wordend, wees oor dertig jaar?
ʼn Saaklike barbaar, ʼn fyn sadis,
ʼn doktrinêre Hollandse meneer?
En sý ʼn druk slagvaardige mevrou
met ʼn allure van dít-is-soos-dit-is?

Die swaan bly oor sy dubbelbeeld gekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.