Gedig: Tydruimtelik

Argieffoto (Foto: Skeeze, Pixabay)

Quintin du Plooy

In kinderskoene was die aandster
ʼn wondergesig
ʼn wyse man se lanternlig
ligtyd was ʼn tik-tok toer van dae
een week lank
en die blok langsaan was ʼn dagreis ver:
kniel by die begrafnis van ʼn rigor mortisduif
ʼn bottel paddavis geskep uit ʼn syferpoel –
ʼn kermkat ʼn wrede tier wat brul
en ʼn rondloperhond
koppronkend soos ʼn trotse arabier,
geskik vir ʼn prins in ʼn kort kakiebroek

Die jare krimp met tyd
werk, bekwaam, jolyt
die wêreld word so klein
soos die knoppies van elektromoderniteit
die dagure loop meedoënloos tot nanag
deur en vergete is die prag
wat snags nog aan die uitspansel hang

Toe jy –
die mooiheid van jou sagte lag
die reguit van jou kyk
jou naïwiteit
wat my vermorsel
en tot getroue ridder slaan
silwer sielesoene-sterre een nag
uit handpalms na Venus geblaas
(om kindeerlikheid deel te maak
van dit wat ons so sieldiep raak)
en verstaan
alleenheid is verby, oplaas

Dalk iewers, eendag
sal ʼn dromerige anderkind
die naghemel betrag en mymerdink
oor die twee spikkels wat dofblink
skuins onder die lanternlig
so flonkerend bly rinkink.

 

*Quintin du Plooy se digbundel Horisonne word uitgegee deur Marleo Publiseerders.
Die bundel kos R130 (posgeld uitgesluit)
Stuur ‘n e-pos aan [email protected] om die bundel te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae