Gedig: Uit: Die passie van ons Heer

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

WEG Louw (1913 – 1980)

Avondmaal

Daar was ʼn stilte in die oppersaal
toe Hy met sterk, verhewe hand Hom draai
en sê: “Die man wat My vannag verraai,
sit saam met My aan hierdie avondmaal…”

In twyfel het hul daardie woord herhaal
en wis nie dat hul vóór die hanekraai
soos blare van ʼn boom van Hom sou waai…
Maar één was doodsbleek teen die lampestraal!

Toe het Hy die brood geneem en God gedank,
dit met die hand gebreek en dit geseën:
die beker het Hy boordevol gegooi

met wyn wat dartel was en vonkelrooi –
maar, hoog gehou, was in geen hand voorheen
ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!

Golgota

Met rooi, gewonde voete en die pyn
van dorings wat sy hoof in spot omhusluit,
het Hy – gelaaf met mirre en bitter wyn –
teen Golgota sy droewe gang gestuit.

Soldate het sy klere uitgetrek
en luid getwis oor kleed en lendedoek;
sy naakte liggaam het hul oopgevlek
oor stam en balk en dit met smaad vervloek.

Die wrede spykers word deur vlees en been
met felle slae ingejaag: sy hande,
verstrak in laaste, goddelike seën,
het Hy wyd uitgebreik oor álle lande…

Die vroue roep in duisternis en treur
Die aarde beef… Die tempelvoorhang skeur.

Opstanding

Drie dae was daar duisternis… Alleen,
in diep gelatenheid, soos in die sand
ʼn suiwer saad wat wag op son en eën
het al sy sterflikheid stil weggebrand:

die swaar en trae slakke van die vlees,
sy onrus, vrees, verwarringe en waan,
dat Hy, één met die Vader en die Gees,
verheerlik in die lig weer op kan staan.

Die wagte kon in daardie gloed nie kyk.
Die steen is afgewentel deur ʼn wind
wat uit vier hemelstreke op die aarde stryk
dat dit vergruisel is tot stof en grint,

en soos uit diepe duisternis ʼn vlam,
staan hoog en rank en smetteloos die Lam!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wessel Pretorius ·

Dankie my Heer dat U ons belangrik genoeg geag het om vir ons sonde te sterf. Vergewe ons ons sondige natuur en seen my volk asseblief. Want in U Naam is alles moontlik ! AMEN.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.