Uit: Noag se ark
AG Visser (1878 – 1929)
Met die welsprekendheid van iemand wat ʼn sweep in sy hand het en ʼn pluiskeil so effens skuins agteroor gestoor
- Die renoster
Die droster met sy vaal karos,
Daar by die wag-ʼn-bietjie-bos,
Met die dik opnaaisels in sy huid
Met ʼn tandestoker op sy snuit –
Dit is mos
die Agteros-
sambok-
renosteros.
- Die dromedaris
Die harige ou harlekyn,
Die Fordkar van die sandwoestyn,
Met ʼn rolvat water in sy inventaris,
Wat nog altyhd silwerskoon en klaar is,
Is die
Kalaharie-
Sarie-
harie-
blikkanarie-
drome-
daris.
- Ensovoorts
Daar’s nog goed met wreder name:
Kwaggas uit die Kraggakame,
Piering-pinang-rottang-blatjang-oerangoetangs,
Middellandse-see-se-ruben-simeon-leviatangs.
Kom jul môre oor ʼn week weer, dan miskien
Sal al die arkebroeders jul vir hul en hul vir julle sien.
So lekker om hulle hardop te lees!!