Gedig: Van die baie drenkelinge vertel die golwe

Argieffoto

Argieffoto

Wilma Stockenström (Geb. 1933)

Van die baie drenkelinge vertel die golwe
my net mooi niks, en die branders spring
uitspattig, ligsinnig van vlieënde skuim,
op na die kranse, of val halsoorkop
oor die sand tot sewemaal toe.
Die vlae sproei wat snel en sag
loop oor die bewende blou soos bruide
seegebore skoon, hoor my nie.
Die bamboese swaai hulle koppe ontkennend
en verswyg verstrengel se gladde valle
vele vame diep en die aas wat hul vergaar
dat ondermaatse krewe kan smul. Tot wie dan
moet ek my wend vir wenke oor die dooies
in die pekelwater van die oseane waar die wind
magistraal sy strekking verkondig?
Tot die water, weer en weer die water,
die weldoener, die geweldenaar wispelturig.

Rus tog nou maar in die dooie gewieg,
draai al drywend om en rus met arms
seënend uitgestrek en die bene obseen oop.

Dit word altyd dag, altyd nag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Een van my gunsteling digteresse in Afrikaans, dankie Wilma!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.