Stephan Bouwer (1948 – 1999)
Vandag sweer ek jou af:
dié sekere hand met sy potlood
verlig my van geen liefdesvers
maar laat bloed
vir die groot gesondword.
jou breë lag gaan my nooit weer kortasem maak nie
oordat dit te lig in die broek geword het
elke kopknik en knipoog
gaan my voortaan koudlaat
jou bene & borskas gaan geweeg
en te lig bevind word
ja selfs die trek van jou mondhoeke
sal op dowe ore val.
ek lê jou af en word die kamera
wat jy altyd van my wou maak.
jou nabootsings van die liefde
word ervaar as
naby- medium- maar veral veropnames
en in die redigeerkamers van my kop word bevind
dat jou spel die paal nie haal nie.
as jy dus weer aan my deur kom klop
sal jy verneem
dat Gebroke Hart Edms Bpk
– wagtend op ʼn nuwe liefdesubsidie –
gesluit het tot latere kennisgewing.
Ouch … eina! Dit klink baie seer.
Stem saam Annakapat, maar tog verwoord hy die seer so mooi!
Jinne wat n mooi gedig, wens ek het hom 6 jr terug gelees, dan het ek nie so getreur nie.
Dit is nou lekkerseer-amper soos Jim Reeves se ‘ Blue side of lonesome’ waarby ek 50 jaar terug gegrens het oor ‘n nooi !