Gedig: Vergewe en vergeet

Argieffoto (SouthAfrica.net)

Argieffoto (SouthAfrica.net)

Totius (1877 – 1953)

Daar het ʼn doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
ʼn ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

“Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ʼn heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ʼn teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Garath ·

Hierdie plasing het my sopas so 60 jaar terug geneem.
In standard 4 moes ek hierdie gedig in konsert opsê.
‘n Hele verhaal in een gedig.

Anette Els ·

Wanneer ek so in Bloemfontein se strate ry, dink ek altyd aan hierdie gedig. Oral langs die strate kom doringboompies op. Om skrape aan jou motor te voor kom, moet jy ry asof daar slaggate is!

Christie ·

Ek wens so ek kan die woorde van Koos Ras se liedjie oor die dagga plentjie , wat op die gedig geskoei is , kry

Eliza-beth ·

Baie mooi en ja, onthou dit ook uit my kinderdae. Mooi les ook: vergewe en die “gom” van tyd sal die wonde heel en mens groei net sterker so…

Jannie ·

Laat my gedagtes baie jare terug gaan, moes die gedig tenvolle leer en ook kon opse. Wonder of vandag se kinders dit nog leer? Is daar dalk van u wat die Engelse gedig onthou ” Water, water every where and not a drop to drink “

Eliza-beth ·

Jannie, dit kom uit “The ancient Mariner” (“…Water, water, every where,And all the boards did shrink;Water, water, every where,Nor any drop to drink.”) en ST Coleridge was die digter

Keean ·

Ek is besig om hierdie gedig te leer vir ‘n skool projek. Dit is regtig ‘n pragtige gedig en ek sal dit vir enigiemand aanbeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.