Gedig: Vergewe en vergeet

deur Totius

Daar het ʼn doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

Een eendag kom daarlanges
ʼn ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

“Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ʼn heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ʼn teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JJEls ·

Een van die mooiste gedigte ooit. Pak gekry op laerskool omdat ek n paar woorde nie kon onthou nie.

Amy ·

Baie mooi. Ons het die gedig op skool geleer. (in Afrkaans). Dis nou die goeie ou dae van skool. Wonder of vandag se kinders nog die gedigte leer? Of is dit heeltemal uit die silabus verwyder?

Amy ·

O ja, ek onthou, ons moes die gedig leer. Ons het ‘n week gehad om dit te leer . Ek het elke dag na skool ‘n strofe geleer. Teen einde van die week (naweke ingesluit) het ek dit geken. Toer kry ek 85% daarvoor. Die goeie ou dae!!!

H J Bester ·

Die gedig gedurende my skooljare in std 3 geleer by mnr de Villiers aan die Outjo Primêre Skool, Suidwes-Afrika. Hy het ons baie goed toegelig waarom die inhoud van die gediggie eintlik gaan. Goeie herinneringe aan vergange dae maar ook met trots omdat ek steeds deel is van ‘n nageslag van stoere mense wat die land getem het.

Wynand ·

Hierdie kultuurskatte het ons by die skool ontdek. Vandag is dit vergete. Ons as ouers moet hierdie skatte aan ons nageslag oordra – dit is iets om trots op te wees. Daar is soveel meer nog, wat word daarvan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.