Gedig: Verlange in ʼn voorwintermôre

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Quintin du Plooy

(Ou Ierse gesegde: “To sing a song without sadness is to love a woman who has no beauty”)

Vanoggend het ek aan jou gedink
moontlik oor die veepaadjie
wat teen die kop op hinkepink
óm Karoo-kiepersolle wat beur
en tussen rotse uitskeur,
dalk oor die aalwyne wat swanger wag
op Junie se rooi assegaaieprag,
dalk oor die voorwinterson se oogknip,
lui, trapsuutjietraag,
deur breuke in die koppe se wolkekraag,
of oor die opgeskote waterstroom
se sagte hakkelgang oor
tydverstompte ysterklip,
wat in borrels en sproeireën die lug in wip,
in klank en kleur protesteer teen die seer
van die val oor die laagwaterbrug.
dalk die flikkerkaats
van één druppel dou
wat die sonligflitse teëpraat, kordaat,
met die blink van gepoleerde agaat,
waar dit in die vetbed van ʼn rotsroos lê.

En vanaand weet ek weer,
my Lief,
Hartevrou,
in alles om my sien ek jou.

*Quintin du Plooy se digbundel Horisonne word uitgegee deur Marleo Publiseerders.
Die bundel kos R130 (posgeld uitgesluit)
Stuur ‘n e-pos aan [email protected] om die bundel te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.