Gedig: Verse

Argieffoto (Foto: skeeze/Pixabay)

Carina Stander

met waterstewels wandel Pa
deur die murg en been van sy grond

roerend soos die fluitlied van ʼn herder
is die paadjies wat swenk
deur afgeleë boorde
waar ʼn boer en boerin gesels met hande
en luister hoe ʼn trop nat sterte swaai
op dae van sappige stingels
staan die weiding heuwelhoog
en die melkkoei
nou reeds horingoud
lui haar klok uitbundig
wanneer ʼn nagaap
bolmakiesie deur die lug

maar drie-uur in die môre lui die beesklok in my stadshuis
vasgesweis aan die ploegstoel wat ek vir Pa gemaak het;
met wyd oop oë hoor ek hoe my geliefde kreun
onder die vuiste van drie inbrekers:
nou spuit sy long ʼn bloedige trompet
nou fluit die keep op sy kop soos ʼn kloof
nou groei daar dorings op die beesvel van ons trom
sonder musiek met oral die bulkende vrees vir bedreiging
sodat ek wil vlug na die plaas van my geheue
waar die kraal douklam is en asemwarm in die oggend

hier sal ons weer melkkanne dra
die klossiegras sal my onthou
my geliefde sal terugkeer na die soetdoringboom
wat bros gom drup uit haar stam
die nagapies sal weer amber suig
en die boerin sal biddend boorde snoei
met die beeste stertswaaiend in bloubuffelgras

Pa sal sy stewels skoon skop teen ʼn paal
en weer die ruigtes na die kraal
oopfluit: nader my God by U steeds naderby
tot aan die einde van alle vrees
waar ons ons boerse liefdes benoem:
Pa, sy verskalwers
en ek, my verse

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.