Heilna du Plooy (Geb. 1947)
Kon ek net een maal ʼn verhaal vertel
wat soos ʼn laatnagkool
sal gloei van deernis vir die wêreld –
dan sou ek gelukkig wees.
En as die gloed waarmee die kool
tot diep in die geheimste plekke brand
die koue mense kon verwarm –
dan sou ek gelukkig wees.
Maar as dit kon gebeur
voordat die kool se rooi en swart
in fyn wit as tot niks verwaai –
dan sou ek inderdaad gelukkig wees.
Uit: Groot Verseboek Deel 3, Tafelberg