Gedig: Volrond nig

Thys van Wyngaardt (Foto: verskaf aan Maroela Media)

Een van Maroela Media se lesers, Vanessa Goosen, se pa Thys van Wyngaard is in Februarie vanjaar oorlede. “Omdat my pa sou wou hê dat ons moet lag eerder as tjank, stuur ek een van Oupa Plaas se gedigte,” skryf sy. “My pa het sy lewe lank gewoon in die omgewing van Piet Plessis (ja, die dorpie bestaan wel – gaan loer maar op jou landkaart in Noordwes, so 100 km noord van Vryburg). Hy was alombekend in die gemeenskap vir sy stories en rympies so hy was ʼn beesboer wat kon dig – raar maar waar.

“Afgesien van die gedigte wat hy self geskryf het, het al hoe meer mense hom gevra om vir hulle iets per geleentheid te skryf. Hy het as gevolg daarvan rympies gemaak vir menigte troues, verjaarsdae en reünies. Elkeen van sy rympies het sy fyn sin vir humor en sy waarnemingsvermoë bevat wat dit regtig kosbaar gemaak het vir die persone vir wie hy dit geskryf het.

“Hy het altyd gesê dat hy dadelik vergeet wat hy geskryf het wanneer ʼn gedig voltooi is. Ek moes dit dan vir hom voorlees en het hy lekker saam gelag wanneer hy dit hoor. Alhoewel my pa op 19 Februarie 2017 oorlede is, sou ek vandag enigiets doen om een van sy gedigte vir hom voor te lees om hom te hoor lag.

“As vrywaring moet ek net sê dat sover my kennis strek hierdie niggie ‘n fiktiewe karakter is…” skryf Vanessa.

Hiermee dan Oupa Plaas se gedig:

VOLROND NIG

My een nig was vol en rond,
dis van soetgoed in haar mond.
Wil nie stap, bly sit en rus,
lyk al nes die Visagies se bus.
Groot en ruim en lomp gebou,
dis van heeldag soetgoed kou.
Seuns die kyk na haar en lag,
haar twee bene dra ‘n sware vrag.
As sy loop lyk dit of sy rol,
haar ou maag is altyd vol.
Haar twee boude waai heen en weer,
dra sy kouse bly hul leer.
Haar boesem is tamaai en groot,
lyk vir my na ‘n bakoond brood.
Op hoërskool het sy vryerig geraak,
die ou gedruk, hy het gekraak.
Sy naam was glo gewillige Frik,
hy’t hom daarna onwillig geskrik.
Nou het sy besluit: Basta, ek verslank,
al vat dit my ‘n halfeeu lank.
Eet nou pomelo’s van vroeg tot laat,
eet sy kos dan raak sy kwaad.
Haar humeur was kort en kras,
maar algaande verslank haar bas.
Op ‘n dag was sy skraal en mooi,
en begin die kêrels flikkers gooi.
Onlangs het sy toe getrou,
ou Frik was die gelukkige ou.

– Thys van Wyngaardt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wern ·

Reguitgesê, skerp, nie noodwendig polities korrek maar lekker gelees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.