Gedig: Vooruitsig

Franschhoek in die Boland

Franschhoek in die Boland

Lina Spies

Ek sal my laaste skuilplek kies:
‘n hut in ‘n winterse maar immergroen woud
omdat ek ‘n wintermens is.

My eerste winters was helder soos glas,
elke asemteug op pad skool toe ‘n wattewasempie;
die lug het jou ore geknyp
en jou wange rooi geknuffel.

Ek het verkaaps omdat die Boland
die blouste berge en die langste winters het:
jy kan reken op ses maande reën
en die groenste tussenposes
as die son die sagste en die stilste skyn.
My hut sal ek kies in ‘n altydgroen, Bolandse bos
maar dit moet die rondawel word op Leeukop
– my oupa se malse Noord-Vrystaatse heuwelplaas –
en ek sal die melkerigheid opsnuif
– saam met blouseep in die sementvloer ingedweil –
en die reuk van die dekriet;
die separator sal ek hoor
en al die koesterklanke van my kindertyd.

Ek sal my slaapsak ooprol
en op dié kermisbed gaan lê,
gestring tussen susters en niggies
en ons sal die nag in giggel en snater
en die sterre bo Leeukop sal skitter.

Maar dan sal dit kom reën
die wintermusikante hulle instrumente stem:
hulle is strykers en speel net kamermusiek,
hulle speel vir iemand wat te lank regop was,
te lank alleen, te lank wakker.

Daar sal ‘n kier wees in my hut,
wyd genoeg vir die wind om deur te stoot
en met een vlaag die kers uit te blaas

wat te lank aan albei kante brand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae