Gedig: Vrugte-ontbyt vir ʼn beminde

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

George Weideman (1947–2008)

Soggens vroeg bring ek vir jou
vrugte uit die paradys: braam
en pruimedant, persswart en stroopsag;
druif en adamsvy, bloupers, bekwaam.

Ons smul aan uitgeswelde vye
en proe die roekelose geilte
van papaja en tamatiepruim;
en as jy in die appel byt,

word jou wange soos nektariens,
jou tong se punt koejawelrooi
en jou oë laat aan korente dink.

Ek kwetter soos ʼn muisvoël, ek flikflooi
voor ek die turksvye vlek:

Jy sê nie pruim nie, maar jou oë sein
beloftes solank jou lippe tydsaam
om vuurrooi kersies vou; lietsjies
laat jou stuitig lag en selfgenoegsaam
strek jy agteroor en begin siel en meer uittrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dirk Senekal ·

1. Puik Afrikaans.
# Lietsjies
# Turksvye VLEK
# Pruimedant
# Jou oë SEIN
2. en Romanties
Hierdie KUNS VAN LIEFDES BRIEF.

(Mense het die kuns verloor om so te kan skryf)

Ek hou baie hiervan.

Eliza-beth ·

Ek ruik en proe die vrugte, en ek voel die liefde…hmmm lente is in die lug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.