Antjie Krog (Geb. 1952)
ek kom weer eens nie uit met my budget nie
die suiker en die melkkoepons is op
langs my masjien lê stapels stukkende klere
spinnekoppe weef macramé teen die mure
my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet
my baba het brandboudjies
my dogtertjie swere
my oudste hakkel van een of ander tekort
my man byt op sy tande
stoot die koolbredie agteruit
en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood…
hou jou by jou lees, sê ons grootste digteres
hoe die hel dóén mens dit?
ek weier om te eindig tussen wier en gras
of kinderloos met ʼn minnaar langs die see
of
met die hertzogprys in ʼn vreemde land
god- en grysverlate.
Gepaste gedig vir hierdie moeilike ekonomiese tye
Ek is kinderloos met ‘n minnaar langs die see. Hy bind my vas met seewier en voer my sjampanje uit sy mond. Daar is erger dinge om te wees – dink ek – as hierdie gedig lees.