Abraham Fouché (1889 – 1982)
Ek kan soos ʼn kuikentjie skree: piep-piep!
Soos my ma vir die hoenders maak: kiep-kiep!
Ek weet hoe die wildepapegaai tjêr-tjêr
as hy hier voor my heen fladder, of daar doer ver
op die kiepersol –
maar wie ken die taal van die blindemol?
Ek kan sing soos kalkoene sing: koel-koel!
Soos water in ʼn slootjie gorrel: toel-toel!
Ek weet hoe ʼn leë konka toem-toem,
en ek het al ʼn kwaai perdeby hoor zoem
soos ʼn stinkhouttol –
maar wie ken die taal van die blindemol?
Ek het al gehoor hoe fluit die valk,
en ons almal weet hoe ʼn donkie balk,
hoe die maanhaarjakkals in die donker huil,
hoe die bleshoender roep wat in die ruigtes skuil,
en hoe runnik ou Knol –
maar stilbly is die taal van die blindemol.