Gedig: Winter

Argieffoto Foto: Jörg Peter, Pixabay

Argieffoto Foto: Jörg Peter, Pixabay

NP van Wyk Louw (1906 – 1970)

Uit: Vier gebede by jaargetye in die Boland
Mei-Julie 1937

III. Winter

Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ʼn helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Eliza-beth ·

HOE mooi vloei ons taal in die gedig…ek beleef die Kaapse nat winters deur sy woorde… Maar dankie tog ek is in sonnige (droë!) Gauteng!

Joan Muller ·

my gunstelling gedig deur een van ons grootste Afrikaanse digters! Ek haat die winter, maar dan lees ek NP van Wyk se “Winter”.

Ansie Geldenhuys ·

Daardie pragtige Afrikaanse gedigte, maak my hart warm in die winter. Lief die winter, net soos die gedigte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.