Eugène N Marais (1871 – 1936)
O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ʼn meisie
in haar liefde verlaat
In elk’ grashalm se vou
blink ʼn druppel dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!
En dan my groot gunsteling digter – C. Louis Leipoldt se pragtige werk:
Dis winter en die boom verblaar,
In bruin hou al die bulte rou;
Die môremis lê vou op vou
Oor pan en plat land opgegaar;
En rustig waai die môrewind,
Wat skaars die ruigte-halme roer
En oor die kaal veldwêreld voer
Sy groetnis aan sy berge-vrind.
Die lewe wat die lente kroon,
Lê slaperig in sy rougewaad
En in die harde sooi die saad
Wat later hoog in groen sal troon;
En wat nog, ná die stryd verduur,
Ná smart-geworstel, roggelkreun,
As pragpilaar die bou sal steun –
Dit sluimer nog en wag sy uur.
Gun ook ‘n volk sy wintertyd
Om rus te neem en krag te win,
Voordat die somerson begin,
Met groen en sap: sy somertyd.