Gedig: Winternag

deur Eugène Marais

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ʼn meisie
in haar liefde verlaat
In elk’ grashalm se vou
blink ʼn druppel dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

amy ·

So ‘n mooi gedig. Wie is ook op skool gevoeter as hul nie hul gedigte (waarvoor ons baie tyd gehad het om voor te berei) geken het nie? Wie moes ook daai laaang gedig Okterbermaand leer, en voordra voor die hele klas? En dit het baaaaie punte getel.

Ignatius ·

Dit is darem ‘n mooi gedig en so ‘n raak beskrywing van die winter.Ons taal is darem die mooiste.O, soetste taal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.