Gedigte in McGregor-naweek: Hartsgebonde

Alle paaie lei binnekort weer na die mooie plattelandse dorpie McGregor, vir alle liefhebbers van die woordkuns. Die vyfde jaarlikse Gedigte in McGregor naweek vind vanjaar vanaf 25 – 27 Augustus plaas. Vanjaar is daar meer as 90 aanbiedinge en die program sorg vir ʼn heerlike mengelmoes van bekende, asook nuwe, vars jong stemme in Afrikaans en Engels.

Digters wat van hul werke gaan deel sluit Ashley Dowds, Pieter Fourie, Johan Myburg, Nic de Jager, Kobus Moolman, Lungiswa Nyatyowa, Lerato Sibanda, Philip de Vos, Diana Ferrus, Lara Kirsten, Fanie Olivier, Koos van der Merwe, Mavis Vermaak, Wendy Woodward, Hermien de Vos en vele meer in. Klik hier vir ʼn volledige lys van al die betrokke digters.

In ʼn variasie op die bekroonde RSG Kunstefees-produksie DIE WOORDKETTING, bring Ilse Salzwedel en twee van die gereelde Woordketting-deelnemers, Diana Ferrus en Philip de Vos, hierdie heerlike woordspel ook na McGregor. Johan Myburg en Nic de Jager sluit by hulle aan. Jy sal hierna beslis met ander oë na ʼn gedig kyk!

Billy Kennedy, eienaar van Temenos en stigter van die Gedigte in McGregor naweek sê dat gedigte ʼn belangrike rol in ons lewens speel: “Ek glo dit is so noodsaaklik soos vars lug. Iemand het eens geskryf dat baie van die geweld en sielkundige probleme in ons samelewing waarskynlik te danke is aan die gebrek aan poësie. Bevooroordeling is altyd eensydig. Poësie maak gedagtes oop. Poësie is uitdagend; dit kan ons hervorm en herskep. Dit gee ons dieper insig en bewustheid van mekaar en hoe ons almal in gees verbind is. Dit doen vir die gees wat joga vir die liggaam doen.”

Kennedy sê dit was ʼn maklike taak om ʼn tema vir vanjaar se Gedigte in McGregor-naweek te kies: ‘Hartsgebonde’. Hy sê: “Baie van wat ons die afgelope paar jaar as ʼn komitee uitgerig het, met die hulp van die wonderlike digters wat ons van die begin af ondersteun het, is uit die hart gebore. Ons het nou NWO status en al ons fondse word eerstens aangewend om Gedigte in McGregor te laat groei, maar ook om verskeie gemeenskapsprojekte in McGregor te ondersteun. Gedigte in McGregor verwelkom nie net bekroonde en gepubliseerde digters nie, maar ook jong, onontdekte talent.”

McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot ʼn unieke ervaring.

As deel van die Gedigte in McGregor-naweek, gaan die MAC-projek ook ʼn spesiale skoledag-program op Vrydag 25 Augustus aanbied. Meer as 800 leerlinge van verskeie skole in die omgewing sal die geleentheid bywoon. Die Kaapse kunstenaar Ha Man! sal saam met Joke Debaere ʼn konsert van musiek, drama en gedigte aanbied. Die Afrikaanse groep Ruk! gaan ook deur die loop van die oggend optree.

Gedigte-kompetisie: Ons het verlede jaar inskrywings van oor die hele land ontvang en ons nooi jul weer uit om vir vanjaar se Gedigte-kompetisie in te skryf. Hierdie jaar se tema is “Poësie as hartskos.” Alle inskrywings moet hierdie tema reflekteer. Die kompetisie is oop vir ongepubliseerde digters en daar is twee kategorieë:
Oop kategorie vir volwassenes: Die prysgeld vir die wenner is R5 000.00
Skole-kategorie (oop vir leerders graad 7 tot 12): die wenner kry ʼn splinternuwe iPad.

Inskrywings kan per e-pos gestuur word na: [email protected] voor 10 Augustus 2017. Vir meer inligting en reëls gaan na www.poetryinmcgregor.co.za

Daar is ook vanjaar weer ʼn aanbieding van die ‘Oop Mikrofoon’-sessies. Hierdie sessies word gelei deur Hugh Hodge. Enige iemand wat graag sy/haar gedigte wil voordra is welkom. Almal is welkom om dit by te woon. Geen kaartjies of besprekings is nodig vir die “Oop Mikrofoon” sessies nie.

Akkommodasie: Bespreek vroegtydig by een van die volgende nommers:
Temenos Retreat: www.temenos.org.za / [email protected] / 023 625 1871
McGregor Country Getaways: www.mcgregor-accommodation.co.za / [email protected] / 023 625 1409 / 076 411 9477
McGregor Toerisme kantoor: www.tourismmcgregor.co.za / [email protected] / 023 625 1954
McGregor Backpackers: www.mcgregorbackpackers.co.za /083 206 8007
Robertson Toerisme kantoor: www.robertsontourism.co.za / [email protected] / 023 626 4437
Robertson Wyn Vallei: www.robertsonwinevalley.com / [email protected] / 023 626 3167

Kaartjies beskikbaar by Computicket. Sien die program hier.

Besoek die webwerf
Sluit aan by die Facebook-blad
Volg die fees op Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.