Gedigte in McGregor: ‘Waar gewone woorde nie genoeg is nie’

Hermien de Vos (Foto: Verskaf)

Hermien de Vos (Foto: Verskaf)

Die Gedigte in McGregor-fees wat vanjaar vir die vierde keer aangebied word, vind van 26 tot 28 Augustus op dié Wes-Kaapse dorpie plaas. Vanjaar se fees bied nóg ʼn groter verskeidenheid digters en programme as verlede jaar.

Liefhebbers van digkuns kry vanjaar die geleentheid om verskeie geleenthede in die geselskap van onder andere Daniel Hugo, Margot Luyt, Koos van der Merwe, Diana Ferrus en Lara Kirsten in die Afrikaanse kategorie by te woon.

Engelse digters sluit in James Matthews, Patricia Schonstein, Kobus Moolman, Khadija Tracey Heeger, Harry Owen, Elisa Galgut en Vangile Gantsho.

Lené Kruger, mediabestuurder vir Gedigte in McGregor, sê dié fees bied iets vir elkeen. Sy sê ook McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. “Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot ’n unieke ervaring. Die optredes sal plaasvind in die tuine van Temenos, ’n lieflike agtertuin-amfiteater, die Wahnfried-teater, die Edna Fourie-galery, The Green Room en The Lion House.”

Die Voices on Fire-kroegprogram, waar digters spontane voorlesings doen, vind vanjaar in Carol’s Pub plaas.

Daar is ook ’n aanbieding van die gewilde oopmikrofoonsessies wat gelei word deur Hugh Hodge.

“Enigiemand wat graag sy of haar gedigte wil voordra is welkom. Die wat dit wil meemaak, kry ’n nommer en wanneer die nommer gelees word sal die digter ’n kans kry om sy of haar gedig te deel. As daar tyd is, kan dieselfde persoon ook meer as een gedig voordra. Geen kaartjies of besprekings is nodig vir dié sessies nie,” het sy bygevoeg.

Lara Kirsten (Foto: Verskaf)

Lara Kirsten (Foto: Verskaf)

Meer oor van die aanbiedings wat vanjaar te sien is:

Lara Kirsten is ʼn konsertpianis en voordragdigter. Sy kombineer dikwels haar digkuns met beweging, die visuele kunste, fotografie en musiek. Na verlede jaar se voorlesing op dié fees keer Kirsten hierdie jaar terug met ʼn poëtiese dansaanbieding met gekalligrafeerde lyf, ink, as, papier en tong.

Hermien de Vos was al te sien in reekse soos Amalia en Villa Rosa. Sy het ook al in verskeie radiodramas en -vervolgverhale deelgeneem. Sy is te sien in die voordrag van Hermina Bamboesina, ʼn karakter wat onstaan het as kreatiewe kampvegter vir die wilde natuur wat sy besing en waarna sy hunker.

Koos van der Merwe se aanbieding heet “Hoekom dan gedigte?” Hoekom iets met ʼn gedig wil sê? As jy dan kan e-pos, twiet, SMS of gewoon net kan praat, hoekom dan gedigte? Van der Merwe reis saam met jou na plekke waar jy weet gewone woorde nie genoeg is nie.

Margot Luyt vertel wat poësie in haar eie lewe beteken. “Poësie voer my dikwels so ver weg dat my eie angs, verlange en melancholie verflou. Die woorde, die emosie ontvoer my na plekke wat ek nie ken nie, maar dikwels oor droom. Plekke waar ek myself kan omvou met die atmosfeer van die vers.”

Die Mothertongue-jeugteatergroep vermeng gedigte, musiek en dans in hul voordrag. Al die materiaal is deur die groep self geskryf en saamgestel en word in Engels, Afrikaans en Xhosa aangebied.

Verblyf is beperk en moet vroegtydig bespreek word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.