Inskrywings vir Avbob-digkompetisie nóú oop

Inskrywings vir vanjaar se Avbob-poësieprojek is nou oop. (Foto: Verskaf)

Aspirant- en gevestigde digters het nou weer die geleentheid om gedigte rondom die tema, “I wish I’d said”, in te skryf vir Avbob se jaarlikse digkompetisie.

Gedigte in enige styl sal oorweeg word en dit hoef nie tot die dood van ʼn spesifieke persoon beperk te word nie. Die tema kan dus uitgebrei word om gedigte wat die lewe vier, oor die kortstondigheid van die menslike bestaan besin en treurgedigte in die algemeen, in te sluit.

“Ons word elke jaar diep geraak deur die diepte en opregtheid van die inskrywings wat aan ons gestuur word,” sê Carl van der Riet, Avbob se uitvoerende hoof.

Dié kompetisie is in 2017 van stapel gestuur om aan ʼn universele behoefte – die verwoording van die verlies van ʼn geliefde – te voldoen. Wanneer mense geliefdes aan die dood moet afstaan, ervaar hulle ʼn groot, en dikwels blywende, leemte, asook die behoefte en gelyktydige onvermoë om die verlies te verwoord.

“Wanneer ons intense vreugde of smart ervaar, is dit dikwels na digkuns waarheen ons draai vir verligting, geselskap en troos. Dit is in sulke tye wat ons waarskynlik die beste woorde vir ons eie diepste emosies sal vind,” sê Van der Riet verder.

Avbob se poësiekompetisie is oop vir sprekers van al 11 amptelike tale in Suid-Afrika. Die wenner in elke taalgroep ontvang R12 500 kontant, ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 en die Avbob-poësietrofee. Daarbenewens ontvang die digters R300 kontant vir elke gedig wat op Avbob se poësiewebwerf gepubliseer word.

Die top-3 gedigte in elke taalkategorie word saam met dié van bekende digters in ʼn gedrukte bloemlesing opgeneem. Alle gedigte op die kortlys sal in Engels vertaal word, in die gees van die bevordering van begrip en meegevoel, en om die rykdom van Suid-Afrikaanse tale te vier.

Avbob se poësiewebwerf bevat ʼn magdom bronne, wat nuttige artikels met raad oor hoe om gedigte te skryf en bloginskrywings deur suksesvolle digters insluit. Redakteurs deel ook wenke en inspirasie op die kompetisie se sosialemediaplatforms.

Inskrywings vir vanjaar se poësiekompetisie is oop van 1 Augustus tot 30 November. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

My gedig wat AVBOB kompetisie.
die stilte skree teen my vas
hier waar ek is…
in my houtjas.
kan ek die stilte hoor
niks bereik my oor
dit is doodstil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.