Jong digter druk stempel af in Afrikaanse digwêreld

Pieter Odendaal (Foto: Verskaf)

Deur Anja van der Merwe

Die 30-jarige digter Pieter Odendaal het vanjaar reeds verskeie pryse vir sy digkuns ontvang.

Hy is as wenner van die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, aangewys. Hy het verlede maand dié gesogte prys by die agtste jaarlikse Tuin van Digters by die Breytenbach-sentrum in Wellington ontvang.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks toegeken aan die beste Afrikaanse of Engelse debuutdigbundel en dié jaar is ’n rekordgetal van 17 digbundels voorgelê waar Odendaal toe as wenner aangewys is. Die ander twee debutante wat die kortlys gehaal het, was Corné Coetzee vir Nou, hier en Jolyn Phillips vir Radbraak.

Odendaal se bundel is ook vandeesjaar met ’n ATKV-Woordveertjie-toekenning bekroon en is vir die UJ-debuutprys vernoem. “Om toekennings soos hierdie te ontvang is vir my ’n bevestiging dat my digwerk raakgesien en waardeer word. Dit is my motivering om aan te gaan met dit wat ek doen,” sê hy.

Odendaal vertel dat sy passie vir digkuns reeds op skool gekweek is toe Irene Raath, sy Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, hom in die klas aangespoor het om gedigte te skryf. ’n Ander groot invloed in sy lewe is sy oom wat self ’n digter is, Bernard Odendaal, wat hom al van jongs af met literatuur en digkuns inspireer.

Dié jong digter het reeds die eerste reëls van sy eerste gedig op die ouderdom van nege geskryf. Van daar af was daar geen keer aan sy kreatiewe siel nie.

Odendaal het sy meestersgraad in volhoubare ontwikkeling aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en is tans besig met sy doktorsgraad in podiumpoësie as respons op veranderings in sosio-ekologiese stelsels aan die Queensland University of Technology in Brisbane in Australië.

Odendaal se doktorale navorsing is gefokus op praktiewe poësieprojekte en -werksessies wat in Bloemfontein en Kaapstad gesetel is. Hier gebruik Odendaal podiumpoësie om belangrike kwessies in ons land aan te raak, soos die kwessie van grondhervorming asook die dringende waterkrisis en droogtes.

“Ek het deur die jare ontdek dat ons deur gesproke poësie op ons probleme en veranderinge in die samelewing reageer,” sê Odendaal.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Odendaal se debuutbundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie. (Foto: Verskaf)

Odendaal se debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, uitgegee deur Tafelberg-Uitgewers, het verlede jaar verskyn en is ’n bestekopname van gedigte wat Odendaal sedert sy universiteitsjare neergepen het. Die bundel het uit die staanspoor opslae gemaak met eietydse en aktuele temas wat tot elke leser spreek.

Volgens een van die beoordelaars van die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie, dra Odendaal die “huidige Suid-Afrikaanse samelewing in ’n toestand van ‘op-weg-wees’” as tema op ’n “oorspronklike, verbeeldingryke en vernuftige wyse” oor.

Odendaal bekyk deur die bundel aspekte van ons samelewing soos politiek, identiteit, ons ekologiese voetspoor, verganklikheid en die menswees in totaliteit. Die bundel is verdeel in konsentriese sirkels en elke afdeling raak ’n ander kwessie in ons samelewing aan. “In afdeling een kyk ek met ’n wyer lens na die politieke werklikheid in ons land. In die tweede afdeling kyk ek met ’n meer ekologiese lens na ons samelewing deur te fokus op die mens se verhouding met sy of haar omgewing. Die laaste afdeling handel oor verhoudings met vriende, familie en die verhouding met jouself waarin die kwessie van depressie en geestesgesondheid aangeraak word,” vertel Odendaal.

Hoewel Odendaal die bundel nie tot een enkele boodskap wil bind nie, loop die tema van verhoudings – met jouself, met ander mense, met jou onmiddellike omgewing en die natuur – soos ’n goue draad deur die bundel.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie uit dié jong digter se pen vra ten einde groot vrae rakende ons samelewing se identiteit soos “Wie is ons?” en “Wie kan ons word?”.

Die ontwikkeling van jong stemme en die toekoms van Afrikaanse poësie

Odendaal is nie net ’n bekende naam onder die digters nie, maar ook ’n kranige vertaler, redigeerder en die uitvoerende direkteur van InZync Poetry.

InZync Poetry is ’n veeltalige en multi-genre-poësieplatform wat deur Odendaal en Adrian van Wyk in 2011 in Stellenbosch en Kaapstad van stapel gestuur is. Dié poësieaande is op ’n maandelikse grondslag in Kayamandi, Stellenbosch, gehou om vir jong ontluikende en gevestigde digters die platform te skep om hulle werk met ander digters binne ’n kreatiewe ruimte te deel. Hier vorm ’n intieme gemeenskap van digters waar veral jong digters die geleentheid kry om hulle digwerk op te voer voor ’n gehoor.

Saam met die InZync-poësieaande het Odendaal en Van Wyk ook die INKredibles-poësie-werksessies op ’n weeklikse grondslag aangebied vir die ontwikkeling van jong stemme in en rondom Stellenbosch.

“My passie vir poësie en veral podiumpoësie is aangevuur toe ons met die InZync-poësieaande begin het. Dit is ’n ruimte om identiteit te bevraagteken en belangrike lewenslesse te leer. Ek het besef wat poësie werklik kan wees.”

Volgens Odendaal het daar in die afgelope dekade ’n verruiming en vernuwing in die Afrikaanse digkuns plaasgevind, ingelei deur die verskyning van grensverskuiwende digwerk deur digters soos Ronelda Kamfer.

Kamfer het haar debuutbundel, Noudat slapende honde, in 2008 uitgereik. Met die digbundel slaag sy daarin om die harde werklikheid van die lewe op die Kaapse Vlakte in haar Kaapse spreektaal uit te beeld. Vandaar het ‘n nuwe opbloei van digkuns plaasgevind waar digters doodgewone sake aanroer waarmee lesers hulself kan vereenselwig.

“Jong digters soos Jolyn Phillips, Ryan Pedro, Ashwin Arendse en Du Toit Dianne Albertze het begin wegskram van die hogere Afrikaanse poësie van die verlede. Hulle begin al hoe meer interessante digwerk lewer waarin hulle poëtiese taalgebruik meer “verstaanbaar” is vir lesers,” sê Odendaal.

Die gemeenskap van digters is ’n interessante tydperk te wagte waar eksperimentering met digkuns aan die orde van die dag is. Odendaal voel positief oor die toekoms van poësie en die rigting waarin dit beweeg. “Soos met enige kunsvorm, gebruik digters sosiale media om aan hulle digkuns blootstelling te gee. Dié gebruik van nuwe media is ’n belangrike verskuiwing in Afrikaanse poësie.”

Odendaal is ook opgewonde oor die geleenthede wat jong ontluikende digters kry om hulle digkuns met die wêreld te kan deel. Afgesien van sosiale media waar digters hulle werk vrylik kan deel, stel aanlyn media, blogs en die opbloei van feeste digters in staat om nou makliker lig op hulle werk te werp as vantevore.

“My raad aan jong digters is om hulself konstant met ander digters te omring, feeste soos die Woordfees en Open Book by te woon en heeltyd waar te neem en te leer wat tans in die wêreld van poësie aangaan. Dit is belangrik om nuwe digters se werk te lees,” sê Odendaal.

“Digters moet na mekaar begin luister. Jong digters moet met ’n wyer lens na die samelewing begin kyk, deur digkuns buite hulle eie kultuur- of taalgroep te bestudeer. Ons moet buite ons eie klein boksies dink. Ons kan baie by mekaar leer.”

Lees Pieter Odendaal se gedig As die wêreld einde se kant toe staan hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae