Hunter Kennedy (Die Heuwels Fantasties)
Grense is lyne op padkaarte en breine
mense is gedagtes met gesigsuitdrukkings
jou taal is klanke wat jou vriende maak
Waar jy groot geword het bestaan nie meer nie
verlore kinders moet loop en leer en werk om van verlede en ontdekkingslus
te bekeer
grense verdedig hart en land
maar hart is hart
en
land is land
en
Afrikaans is Afrikaans
maak nie saak waar in die wêreld jy jouself bevind nie
orals op die verkeerde paaie
ry duur motors
met moë gesigte
onderdeur bang lamppale
wat op frustreerde doodloopstrate skyn
met hartseer bankkaarte
wat by leë banktellers na genade vry
en deurmekaar selfone wat langdradig kopsere wakker lui
lewe ons verby sinister advertensieborde
en senutergende koerantopskrifte
en mekaar
oral
verveelde TV’s
wat hartseer bangmaak-beelde flikker
op oorgewig sitkamerstelle
bou ons verleë aan hoop
om eendag hier iewers
’n prentjiemooi huis by die bank te kan koop
in die druk verkeer
en die briesende wind
wat die diepseewolke se moordneigende reën
oor die kense skiereiland se versadigde lokasies spoeg
besef ek dat ons net sotte in ’n resies is
wat versot verby mekaar spronge tree
Ons is maar pens en pootjies
en ons maak net meer
oor die langtermyn stel ons net teleur
Ons is maar wild
Verwildere goed
Wat die waarheid
In die wildernis soek
Wat ek soek
Kan nie aan my verkoop word nie
Wat ek soek is verniet
Dis om huis toe te wil kom
dis om ’n koue bier te geniet
en die mooi dag in sy moer te stuur
dis om veilig binne te kan wees as die wind hard huil
en die koue reën daar buite is
dis om te weet dat daar mense is wat jou sal af help
as jy op jou perdjie spring
en jou sal op help as jy aanjaag
en uit laat as jy wil verken
dis om uit jou buik uit te kan lag en dit te bedoel
dis om te weet wat jy soek
dis om te sing tot dit pyn
en te kan huil voor jou vriende
dis om te dink jy weet wie jy is
en te aanvaar dat jy meeste van die tyd
die pot mis sit
jou land is waar die son opkom en weer gaan sak
Ons is ruimtevaarders, automechanics, drop-outs en dokters
Ons is strokiesprenthelde, boggerops, seuns en dogters
Ons is miljoenêrs en presidente, rockers en rugbyspelers, gelowiges en besetenes
Ons almal is
mense het hul grense self uitgedink
Dankie Maroela! Baie mooi…
Dit is pragtig en baie dankie vir die mooi gedig
Pragtig, sou net in diegedig van ‘n baba se opregte glimlag wou lees – so opreg