Het jy al opgemerk dat wanneer poësie ter sprake kom hoe baie mense voel dat hulle nie die vermoë het om dit te begryp nie? Dalk het jy ook al self ervaar dat poësie iets is wat eerder aan ander, dalk meer gesofistikeerde individue behoort?
Petra Müller (1935-2021), ʼn digter, redakteur en onderwyser, het geglo dat poësie vir almal toeganklik moet wees. Sy het ook die siening gehad dat digkuns uit die eenvoudigste, mees gewone dinge kom.
Sewe bundels Afrikaanse gedigte het uit haar pen verskyn en in 2006 is Night Crossing (Tafelberg), ʼn buitengewone digbundel in Engels, gepubliseer.
Met die oog op Vrouemaand bring Avbob se poësieprojek hulde aan die lewe en werk van Müller deur van die raad te deel wat haar lewe as digter en poësieredakteur vergestalt en wat sy aan jonger skrywers oorgedra het.
Een van Müller se wenke, is om bewus te wees van dit wat rondom jou aangaan, veral wanneer dit by natuurverskynsels kom. Elke stroompie en elke klip waaraan jy raak, het ʼn storie van sy eie. Van die mees tydlose gedigte is deur ʼn vlietende gebeurtenis geïnspireer, die aanskouing van ʼn voël of dier, ʼn wolk of golwe in die see.
Müller het medeskrywers aangemoedig om nuuskierig oor alles te wees. Om nie net aandag aan belangrike gebeurtenisse te gee nie, maar ook aan gewone gesprekke, en ou stories wat mense graag herhaal.
Gedigte het nodig om na jou toe te beweeg, was Müller se mening. Die rede daarvoor is omdat kreatiwiteit in stilte groei. As jy dus genoeg ruimte in jou lewe toelaat, sal gedigte by jou aanklop wanneer jy dit die minste verwag. Haar raad was om ʼn stil plek te soek, miskien tussen klippe of naby water, want dit is in sulke eenvoudige omgewings waar gedigte hulle opwagting maak.
Om ʼn gedig te skryf is om aangegryp te word. Müller het dit as ʼn soort betowering beskou. Sodra een versreël by jou opkom, volg die res van die gedig organies. Terwyl daardie gedig ʼn houvas op jou het, gaan die tyd verby en jy is nie bewus daarvan nie. Daarom het Müller gevoel dat die skryf van ʼn gedig nie regtig werk is nie. Jy moet net bereid wees om dit te skryf.
Die laaste brokkie wysheid wat Avbob uit Müller se lewe voorhou, is dat elke gedig wat jy skryf ʼn lewe van sy eie het. Dit word ook op twee verskillende maniere ervaar: Aan die een kant, waar dit geskryf en oorgedra word, en aan die ander kant waar dit gelees en ontvang word. As jy poësie wil skep, moet jy dit doen met die eenvoud en selfgenoegsaamheid van ʼn klippie of ʼn druppel water – ʼn voorwerp soos vervolmaak deur die natuur.
- Inskrywings vir Avbob se jaarlikse poësiekompetisie vir gedigte rondom die tema, “I wish I’d said”, kan ingestuur word van 1 Augustus tot 30 November. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.