Sê nou

ag_visser

AG Visser

AG Visser

Sê-nou is ‘n lekker sê:
Alles wat ‘n mens wil hê,
alles wat jou hart begeer,
kry jy daarmee en nog meer.
Nooit kan jou die tyd verveel
as jy altyd sê-nou speel.
sê-nou, sê ek aan my maat
toe ons saam loop langs die straat,
sê, byvoorbeeld, elke iets
van ‘n motor tot ‘n fiets,
perdekar of ossewa,
ryperd wat sy ruiter dra –
alles waarop mense ry,
kom onsigbaar hier verby,
net die mense – wat ‘n klug! –
trek dan sit-sit deur die lug,
ooms te perd met lange baard
wip-wip luglangs doodbedaard;
snaaks sou wees die trem-wa daar,
twee verdiepings op mekaar;
maar die baie-sukkel trap
lyk my nog die grootste grap
as jy net die fietser sien
maar geen spoor van sy masjien!
Sê-nou, antwoord toe my maat,
jy hou op met onsin praat;
jy moet na die dokter gaan
met jou kop: daar skeel iets aan:
Sulke mal gedagtes kry
kom van mallemole ry!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.