Skep moed

Skep moed

As ek vanaand met jou kon praat;
wat sou ek tog aan jou oordra?
Met seer is ek hier weg geskeur
en dit laat jou ʼn antwoord vra.

Sou ek vertel van my jong dae;
van plaaslewe in Afrika;
die liefdesdae, ek en jou ma;
en als wat ons aan jou oordra?

Ons is mos lief vir hierdie land;
het hier geplant, gebou, gespaar.
Dit elke dag vir jou geslag:
ʼn Ideaal vandag nog daar.

Sou ek aan jou vertroosting bring
met fantasieë uit die see geroei?
Of sou ek eerder net vertel
van die bloed wat in jou are vloei?

Want jy is nie per toeval hier nie;
maar met ʼn roeping hier geplaas.
Dink daagliks aan jou nageslag
en wat jou kinders van jou vra.

Sou ek vertel van die Groot Griep;
van rampe wat verwoesting bring;
die depressievlaag en armoedvraag;
of hoe ons wilskrag dit deurdring?

Hoe jou oupa, toe taamlik jonk;
in daardie tyd reeds agterkom;
die beste geweer is om te leer.
Slegs só skep mens waarlik ʼn toekoms.

Of van die blikskud-pennietyd;
van sentesamel met jolyt;
hoe koeksisters gewoeker is
om te bou aan ʼn universiteit.

Of sou ek verder terug moes peil;
tot by die tyd van ween en huil
en jou vertel van verskroeide hel
reg in die doodskadu se dal.

Dit was die dae van kinderbloed;
van vrouewoed en tranevloed;
en ons onthou dié wat verloor is;
en veg dan voort met dié wat oor is.

Dan sou ek jou vertel van moed;
van vrou alleen, gespot, geslaan;
wat als verloor, vlug met niks oor
en in die veld haar man moet staan.

van seuns wat oornag krygers word
en in die slag mekaar moes dra;
waar kanon knal en broeders val
vir vryheid in Suid-Afrika.

En die ruiterperd se runnik galm
vêr met die bergpas aan;
waar Majubaduif vir vrede vlieg;
toe Dawid Goliat verslaan.

Anders sou ek kon vertel
van ossewa deur berg en dal;
van kaalvoetloop en kinders doop;
en streepsakslaap by voorlaaierloop.

Maar ek wil vertel van Lenie Retief.
Haar man vermoor en toe dié brief:
Stuur tog ʼn kissie vrugtebome;
sodat ons kan plant in die nuwe land.

As ek vanaand met jou kon praat
sou ek haar brief aan jou oordra.
Skep moed, gaan plant in hierdie land.
Dis wat jou kinders van jou vra

Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.
Volg hom op Twitter by @ernstroets

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Gedigte, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.