Tuin van digters: Die tuiste van Afrikaanse digkuns

Hoe ervaar verskillende digters, kunstenaars, musikante, liefhebbers van poësie en mense uit verskillende gemeenskappe, taal- en kultuurgroepe – oud en jonk – digkuns? Kom kyk, luister en beleef hóé . . . by die sewende jaarlikse Tuin van Digters, ’n projek van die Breytenbach-sentrum, wat op Vrydag 14 en Saterdag 15 September 2018 in Burgerstraat 14 in Wellington in die Boland plaasvind.

Die tema van 2018 se Tuin van Digters – die tuiste van die Afrikaanse digkuns – is buitedieboek. Daar word op nuwe en anderste wyses deur woordskeppings, kuns, openbare ruimtes, musiek, klank en sang uiting gegee aan woorde, frases en gedigte. In Afrikaans, en deur ander tale in Afrikaans. En andersom.

Klem word in die program gelê op vertaling uit Afrikaans na ander tale en hoe buite die boek, en buite die boks, gedink sowel as gedoen kan en moet word om Afrikaanse gedigte aan ander taalgroepe, spesifiek Engels- en Xhosa-sprekendes – die Wes-Kaap se twee ander ampstale – en ook ander tale bekend te stel. ’n Groepgesprek hieroor word deur PEN Afrikaans aangebied. Afrikaanse, Engelse en isiXhosa-digters sal van hulle werke voorlees – in die oorspronklike taal, met die vertalings van die gedigte in die agtergrond op skerms. Digters wie se gedigte in die US Woordfees-bundel, ConVerse, in die drie tale vertaal is, neem hieraan deel.

Ander programitems wat die tema buitedieboek aanspreek, sluit in Breyten in Engels deur Ampie Coetzee, wat besig is om gedigte van Breyten Breytenbach in Engels te vertaal; die identiteit en poësie van hip-hop deur Annie Klopper, wie se doktorstesis hieroor handel, en ’n bespreking en uitstalling van ‘Parys Suite’, ’n publikasie van gedigte buite die tradisionele konteks van ’n gepubliseerde bundel, met die middelpunt daarvan ’n poësiefilm deur Diek Grobler met ’n trio gedigte deur Carina van der Walt.

Digters van die digprojekte van die Breytenbach Sentrum – insluitend leerders van die Weltevrede Skool en die digter Diana Ferrus se Mengelmoesdigters – wys wat buite die boek met gedigte gedoen kan word – in die skryf en in die oordra daarvan.

Kunstenaars wys in die groepuitstalling in die Breytenbach-galery wat hulle met die woorde van gedigte kan maak. Feeskunstenaar Henk Serfontein haal in “Handskrif” sewe formidabele vrouedigters, naamlik Jeanne Goosen, Antjie Krog, Wilma Stockenström, Lina Spies, Diana Ferrus, Melanie Grobler en Joan Hambidge, behoorlik uit hulle bundels (met hulle instemming!)

Daar is ook sang en voordrag deur digters en kunstenaars wat elkeen op ’n eie manier buite die tradisionele boek dink en skep. Hulle sluit in Daniel Hugo en Yves T’sjoen wat praat oor Vlaamse digters in Afrikaans, Willemien&Philomène& in Afrikaans en Frans en die Kaapse bekendstelling van Ons Klyntji Internasionaal.

Ook op die program is voorlesings, toonsettings van gedigte en optredes deur onder andere Carel Trichardt, Petro Wessels, Niel Rademan, Elsabé Daneel, Toast Coetzer en The Buckfever Underground met geïmproviseerde musiek en voordrag van Afrikaanse en Engelse gedigte, Tribal Echo, Laurinda Hofmeyr met Afrique mon désir, en ’n verering van die Joods-Afrikaanse digter Olga Kirsch met ’n biografie deur Egonne Roth.

Daar is nog meer by 2018 se Tuin van Digters! Die volledige program is hier beskikbaar.

Kaartjies is R300 per persoon vir albei dae (Vrydag en Saterdag), R120 per persoon net vir Vrydag, R220 per persoon net vir Saterdag, R60 per dag per student en gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.

Bespreek by Jeanne-Marie Gerber by [email protected] of 021 873 2786 of 073 435 1022.

MEER INLIGTING:
E-pos: [email protected]
Breytenbach Sentrum se webwerf
Breytenbach Sentrum op Facebook
Breytenbach Sentrum op Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.