“Tussen hemel en aarde” laat jou die skepping soos ʼn kind ontdek

Die gehoor lê uitgestrek op matrassies om die vertoning teen die dak te kyk

Die gehoor lê uitgestrek op matrassies om die vertoning teen die dak te kyk

Nog ‘n foto volg onderaan die berig. As jy by die saaldeure waar Tussen hemel en aarde vertoon word instap, en matrassies op die vloer aantref in plaas van stoele in netjiese rye, weet jy dié vertoning kyk anders na teater. Nes TT Cloete se poësie anders na die lewe kyk.

Cloete se poësie word gekenmerk deur sy verwondering oor die grootsheid van die skepping, van die kleinste gogga tot die grootste sterrestelsel. Alexa Strachan en Pieter Lombaard, vervaardigers van dié produksie, dwing jou as ‘t ware om ook die skepping te sien soos jy dit nog nooit gesien het nie. Terwyl jy op die naat van jou rug op ʼn matras lê, word ʼn videoproduksie op die dak bokant jou geprojekteer terwyl gedigte van TT Cloete en enkeles van Carina Stander voorgelees word, afgewissel met snitte uit ʼn onderhoud met Cloete. Daar is ook musikale verwerkings van die poësie deur Herman van den Berg. Die uiteinde is ʼn skeppingsverhaal in die kleine.

Die bewegende beeldmateriaal is só geskiet dat dit met tye voel of jy deel word daarvan en saam beweeg – amper ʼn driedimensionele ervaring. Wanneer jy jou oë sluit, neem die poësie, voorgelees deur Chris van Niekerk, jou nog steeds saam op die produksie se reis deur Cloete se poësie.

“Ons het saam met TT Cloete die gedigte uitgesoek wat ʼn storielyn vir die produksie sou kon vorm,” sê Pieter Lombaard. “Die storie is uiteindelik maar die skeppingsverhaal wat vertel word.”

As jy tans by Aardklop is en ʼn aanhanger is van Cloete se poësie, maak seker jy sien Tussen hemel en aarde. Buiten ʼn stewige skoot letterkunde en ʼn nuwe manier van dink oor teater, kry jou voete en lyf ʼn heerlike ruskans, plat op die grond, soos net ʼn kind of ʼn digter na die wêreld kan kyk.

Tussen hemel en aarde” wys tans daagliks om 17:00 by die Aardklop Nasionale Kunstefees in die NG Kerk Noord-saal. Die vertoning duur 35 minute en kaartjies kos R60.

V.l.n.r. Wilna Swanepoel, Dirk Kruger en Chantel Smal, almal van Gauteng geniet die vertoning

V.l.n.r. Wilna Swanepoel, Dirk Kruger en Chantel Smal, almal van Gauteng geniet die vertoning

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.