[WEN] Skuil daar ʼn digter in jou?

 Digkuns_kompetisie_5.jpg

Foto: pixabay.com

Om met woorde te speel, is nie almal beskore nie. Dus, as jy dink jy het die talent om te dig, skryf dan in vir vanjaar se BoekeJol-digkunskompetisie. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, en jy word ook nie in ʼn boksie geplaas wanneer dit kom by die tema nie. Die tema vanjaar is: Kom ons gesels. Waaroor gesels jy en jou mense? Vertel vir ons! Gryp nou daardie pen en papier of sleutelbord en vingers en wys ons jou talent.

Dit is die tweede jaar wat Maroela Media en BoekeJol dié digkunskompetisie aanbied.

Hier is 2017 se wengedig:

Midde (ons) winter

Deur Alida Marais

hiér waar jy donkerkolle gelos ’t
en soveel nikssê’s tussen ons
bid ek vir son oor jou skouers
want jy raak my steeds
jy raak my soos stiltes en stukkendwees
en selfs tussen vlae verkluim
bly ek dink aan jou soos vlamme en fynhout
en die kleur van somers
want jy roer my nog
jy roer my soos iets wat opwel en oorloop
en van vooraf neig na die flonker van vergifnis

BoekeJol en Maroela Media gee aan elkeen die geleentheid om sy of haar digvernuf met ons te deel. “In ʼn gedig kan elkeen uiting gee aan sy of haar eiesoortige gevoelens, gedagtes en leefwêreld,” sê Dia van Staden, organiseerder van BoekeJol. Dit is die tweede kompetisie van sy soort wat aangebied word.

Die wenner van die kompetisie ontvang R3 000, die tweede prys bedra R2 000 en die derde prys R1 000.

Klik hier om jou gedig nou in te skryf. Die sluitingsdatum is Vrydag 10 Augustus 2018.

BoekeJol vind vanjaar plaas van 30 Augustus tot 1 September by die Leriba Hotel in Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.