Wenners van die BoekeJol-digkompetisie 2018 bekend!

Digkuns_kompetisie_2.jpg

Foto: pixabay.com

Dié jaar se BoekeJol-fees het weereens die jaar met ʼn heerlike digkunskompetisie afgeskop.

BoekeJol en Maroela Media het aan elkeen, maak nie saak hoe oud jy is nie, die geleentheid gegee om hul digvernuf met ons te deel.

Die beoordelaarspaneel was die bekende skrywer en digter, Emma Bekker, en dr. Alwyn Roux, ’n dosent in literatuurwetenskap en kreatiewe skryfkuns in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap van die Universiteit van Suid-Afrika.

Hier is die wengedig uit die pen van Hélen Möller (42) van Nelspruit.

da capo al fine

Ek lei jou na die klavier in die saal se hoek:
jy slaan gretig die deksel op.
Jou vingers vind die klanke sonder soek.
Foutloos speel jy, uitgetrapte baan
tussen brein en vingers onaangetas.
En ek sing saam, ondanks die lastige huil
wat opwel in my borskas.

Want vir ’n klein oomblikkie ken jy my naam
terwyl jou vingers die Here prys met blye galm.
Met musiek sê ons alles wat in ons harte is.
Want ma’s en kinders Ken mekaar
selfs wanneer alzheimer die plesier
van geselsies tussen geliefdes uitwis.

Die tweedeplekwenner is Gert Strydom (54) van Springs.

Diep in Junie in die erge winter

Diep in Junie in die erge winter
kruis jy my pad en is ek met jou verstom
as jou tuin nog blomme het
wat steeds in die ryp besig is om te blom.

Jou woorde is kort en kragtig
waar die blomme jou verruk
so asof als in hierdie skepping volmaak is
en van daardie oomblik bly die indruk

as liefde sommer self begin
jy my lok en trek diep in jou dae in.

[Verwysing: “Middenin de vlakte van juli” deur Herman de Coninck]

Die derdeplekwenner is Adri Roothman Buys (37) van Parklands in die Wes-Kaap.

So ’n bietjie onthou tussen my en jou

Kan ek sommer net ’n bietjie hier kom sit
en woorde uitruil met jou
betaal my uit die skatkis van jou geheue
leer my van die dinge wat skuil in die wysheid van jou oë
Ek wil terugkyk na een van jou dae lank terug in 1965
toe jy met kaalvoete tussen roosblare kon dartel
en kon liefhê met daai helder blink van die son
in ’n wit rok wat sag die herinneringe van jou lyf kon omvou
jou hartklop wat jou oë gelei het
waar liefde begin woon het in die grys van ’n man se oë
wat jou gelei het na jou huis van lewe
laat my loop deur die mooi van jou jonkwees
en leen my ’n stukkie van jou gister
om vas te pers tussen my blaaie van hoop

Die vierde BoekeJol-fees vind vanjaar van 30 Augustus tot 1 September plaas by die Leriba Hotel in Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.