Winterskool-wenner (gedig): Kinderprente

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2019-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale: Natie Engelbrecht met “As die blou verdwyn”
Eenbedrywe: Naomi Malan met “Brood”
Gedigte: Zerelda Esterhuizen met “Kinderverse”

As wenprys is elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2019, wat in Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom aangebied is. Maroela Media het ook die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk gedek.

Die drie wenners het ook die geleentheid gehad om, tydens die Winterskool, aan verder aan hul tekste te werk en dit te skaaf tot ʼn finale produk uiteindelik hier op Maroela Media gepubliseer kan word.

Die gedigtebeoordelaar, Louis Esterhuizen, vertel dat heelparty inskrywings in hierdie kategorie van versvernuf getuig. Zerelda Esterhuizen se kwatryn-drieluik, “Kinderverse”, vertoon egter die fynste aanvoeling ten opsigte van versifikasie. In die eerste kwatryne word die realiteit van ’n kleurlose kindertyd beeldend – en ook met iets soos die benutting van gebroke rym – oortuigend gekontrasteer met die versugting na die kleurryke en avontuurlike. In die derde gedigdeel word ʼn mate van hoop in die volwassewordingsproses verwoord. Die spreker se vermoë om bo eie omstandighede uit te styg, word effektief binne die konteks van poëtiese segging hanteer.

Hiermee die finale weergawe van Zerelda se gedig:

Argieffoto (Foto: Wokandapix/Pixabay)

Kinderprente

Deur Zerelda Esterhuizen

Dit was net in swart en wit,
want kleur het toe ontbreek
Kinderjare moet in vetkryt wees
Ons s’n was in houtskool en gebreek

As ons maar ’n groot, geel son gehad het,
heldergroen bome en pienk roomys
Maar Pa was altyd die groot uitveër
en ons kon net gewiste lyne wys

Maar kinders word ook groot
en trek eie strepe, sterk, sekuur
Hulle laat staan die uitveërs
en maak hul eie prente: volkleur, en versier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Pragtige gedig, wat veel sal beteken vir mense wat eers later jare van kleur geleer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.