Geheime trappie by Senotaaf van monument onthul

Die senotaaftrappie word oopgeskuif. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

’n Ou verslag van ’n destydse opsigter, iets wat deur die gewone oog as rommelpapier beskou sou kon word, het tot die ontdekking van ’n geheime kamertjie onder die senotaaf in die Voortrekkermonument gelei.

Dié ontdekking is maar net een van die geheime van die Voortrekkermonument wat in Estelle Pretorius se boek, Marmer en graniet, vervat is.

Toe Estelle in die laat 1990’s by die Erfenisstigting begin werk het, sou sy nie kon raai dat sy op ’n reusevonds in die parkeerterrein by die Voortrekkermonument sou afkom nie.

“Daar het ’n bakkie verby my gejaag en daar het net papiere gewaai,” vertel Estelle tydens haar boek se bekenstelling Vrydagaand by die monument.

Prof. Fransjohan Pretorius. (Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Sy erken skertsend dat vir ’n historikus daar niks so aantreklik soos ’n stapel geel, verouderde dokumente is nie. Die bakkie was propvol sulke dokumente, wat uit ’n ontruimde stoorkamer gekom het.

“Daar was stapels en stapels van die papiere in my kantoor. Ek het elke dokument noukeurig deurgelees.”

Dit is met dié einste leeswerk dat Estelle afgekom het op ’n interessante opsigtersverslag. Dié verslag het nie net die waterlek gerapporteer nie, maar ook daarop gedui dat een van die trappies onder die senotaaf los was en kon oopskuif.

Hy het destyds geskryf dat hy die beheerliggaam daarvan wou vergewis, maar of dit ooit gebeur het, is daar nog nie skriftelike bewyse voor gevind nie. Die optekening daarvan was egter van onskatbare waarde vir historici wat die geheime van die monument wou ontdek.

Marmer en graniet is ’n lywige bygewerkte en hersiene uitgawe van prof. OJO Ferreira se boek, ’n Volk se hulde, wat in 1975 gepubliseer is. Interessante nuwe inligting, foto’s, sages, intriges en staaltjies lê in dié boek opgesluit.

Estelle Pretorius. (Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die geskiedenis van die Sentrale Volksmonumentkomitee, die hoeksteenlegging wat in 1938 plaasgevind het en die inwyding van die monument in 1949 word veral in die kollig geplaas.

Die gerespekteerde historikus, prof. Fransjohan Pretorius het die boekbekendstelling op Vrydag 17 Februarie behartig en ook sy tevredenheid met hierdie nuwe geskiedenishulpmiddel uitgespreek.

“Die merkwaardige ding van ons geskiedenis is dat 17 000 mense hulle grond verlaat het vir ’n beter toekoms,” het hy gesê.

“Jare later word die planne en oprigting van die monument van die groot boublokke in die geskiedenis van die Afrikaner, en Moerdijk se werk self was iets prysenswaardig. Estelle het haar oor en oor bewys as ’n deeglike navorser en het ʼn briljante boek uitgegee.”

Prof. Anton van Vollenhoven, ’n argeoloog, het aan die gaste, wat historici soos dr. Nicol Stassen en oudpolitici soos dr. Pieter Mulder ingesluit het, die ontdekking van die trappie uiteengesit.

Die gaste het om die senotaaf saamgedrom om te sien hoe die trappie vir die eerste keer in dekades oopgeskuif word.

Alhoewel talle gaste skertsend opmerkings gemaak het soos “miskien is die Kruger-miljoene daarbinne,” is daar nie enigiets in die geheime vertrekkie ontdek nie.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die naam “WF Du P” is wel aan die onderkant van die senotaaf bespeur en blyk om die werk van die bou-ingenieur, WF du Plessis, te wees.

Estelle verduidelik dat die boek nie ’n nuwe verhaal is nie, maar ’n ander, oorspronklike blik op die oprigting van dié monument wat volksbesit geword het.

“Die indeling is nuut aangepas, die tapisserieë en friespanele is volledig bespreek met pragtige kleurfoto’s, en daar is bylae wat ek bygewerk het op grond van die navrae wat ek oor die jare gekry het,” het sy gesê.

“Mense wil altyd weet: wie was die kinders wat die monument se deure die eerste keer oopgestoot het, wie was die egpare wat daar getrou het, wie was al die kunstenaars. Hier is baie stories en staaltjies in die monument en die nuwe boek vertel dit alles.”

  • Stuur ʼn e-pos na [email protected] om jou eksemplaar van Marmer en graniet teen R350 aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.