Gerhard van Huyssteen gesels oor woordjiehonde, verwaandheid en Afrikaans

Prof. Gerhard van Huyssteen (Foto: Verskaf)

Gerhard van Huyssteen is ʼn gebore Vrystater en plaasjapie wat van kindsbeen af met sy neus in boeke rondgesnuffel het. En wanneer hy nié besig was om kennis te verorber nie, het hy saam met sy hond buite kerjakker.

Maroela Media het dié taalkenner vir ʼn koppie koffie genooi om hom beter te leer ken en uit te vind waar sy liefde vir Afrikaans begin het.

“Ek het in ʼn sterk Afrikaanse, asook polities‑ en kultureel‑konserwatiewe huis grootgeword,” vertel Van Huyssteen. Hy onthou hoe sy pa hulle op die bed laat sit het, terwyl hy vir hulle verse van digters soos Jan FE Celliers, C Louis Leipoldt en Totius voorgelees het.

“My pa het ʼn geweldige liefde vir Afrikaanse letterkunde, veral poësie, gehad. Ek kan onthou dat ek aan sy lippe gehang het wanneer hy vir ons gedigte voorgelees het. Ek was mal daaroor, maar my suster het niks daarvan gehou nie.”

Van Huyssteen is ook die beoordelaar van die program ‘Op die Spel’. (Skermskoot: kykNET)

Van Huyssteen reken dat sy pa se voorlesings destyds al die saadjie vir sy liefde vir taal geplant het. Dit was veral die ritme en klanke van taal wat hom meegevoer het. Sy ma het op haar eie manier nog altyd ʼn rol in sy lewe gespeel. Sy het onderwys studeer, maar ʼn tuisteskepper  geword nadat sy getroud is.

“My ma was iemand wat onsettend hard gewerk het in die gemeenskap. Sy het voorgevat en haarself aanhou vernuwe,” verduidelik Van Huyssteen. Hy het groot bewondering dat sy ma op 75-jarige ouderdom steeds ʼn voorvatter is. “Haar pa het altyd gesê dat harde werk niemand nog ooit doodgemaak het nie. My werkverslawing kom beslis van haar af.”

Van Huyssteen vertel dat sy ouers hulle ook van kleins af aangemoedig het om selfstandig te dink op ʼn verantwoordelike manier. “Daar was net twee dinge wat ek nie mag doen nie: geen tatoeëermerke of gaatjies nie en ek mag nie op ʼn motorfiets ry nie.” Hy het selfs haar toestemming gevra toe hy onlangs met ʼn navorsingsprojek oor vloektaal in Afrikaans begin het.

“My ma was letterlik die eerste persoon met wie ek gepraat het oor my vloekprojek,” vertel hy. “Ek het vir my ma gesê-vra ‘Luister, ek weet hoe ma dink en voel oor vloek. Ek wil hierdie projek aanpak. Is dit in die haak met ma?’” Waarop sy gevra het of dit regtig nodig is en Van Huyssteen verskeie redes aangevoer het waarom ʼn studie oor gekruide taal gemotiveerd is. Sedertdien kan hy en sy ma openlik oor die onderwerp en sy navorsing gesels.

prof-Gerhard-van-Huyssteen-Viva

(Foto: Dagbreek/Youtube.com)

Van skoolbank tot graadvang

Oor sy skooldae gesels hy ewe gemaklik.

“Ek was in ʼn klein plaasskooltjie met 38 kinders van graad 1 tot standerd 5,” vertel hy. “Ek dink dit het ʼn mens gehelp om vinnig te ontwikkel en jou stem te vind, want jy het die geleentheid gehad om jou sê te sê,” meen hy en voeg skertsend by, “Dis dalk hoekom ek vandag nog so baie praat.”

Van Huyssteen was van standerd ses af tot aan die einde van sy meestersgraad in die koshuis en dit het ook ʼn groot rol in sy ontwikkeling gespeel.

“Ek dink ʼn mens leer onsettend baie in terme van interaksie tussen mense, asook hoe om dikvellig te wees en boeliegedrag te hanteer,” vertel hy. “Dit maak ʼn mens weerstandig en dit gee jou ʼn bietjie ruggraat.”

ʼn Ander persoon wat ʼn groot rol in sy ontwikkeling gespeel het, was mnr. Koekemoer, sy beroepsleidingsonderwyser. Van Huyssteen vertel dat hy reeds in standerd 7 geweet het hy wil eendag ʼn professor word en dat mnr. Koekemoer dit vreemd gevind het.

“Toe ek dit vir hom sê, het hy so gelag en gesê: ‘Word maar eers ʼn onderwyser en dan word jy ʼn professor’. En net daar het ek besluit: De hel met jou! Ek sal jou wys ek sal ʼn professor word sonder om ʼn onderwyser te word.”

Van Huyssteen het na skool tale by Tukkies gaan studeer, hoewel almal eintlik wou gehad het hy moes weermag toe gaan. Daarna het hy vir twee jaar by die WNNR gewerk en toe by die Puk aangesluit, waar hy tans ʼn buitengewone professor in taalkunde is.

Woordjiehonde: Hoekom en Sommer

Van Huyssteen het as kind al ʼn groot liefde vir honde gehad. As seun het hy ure op die plaas saam met sy vierpootvriend deurgebring. Hy het grootliks met Great Danes grootgeword, maar ná die dood van sy laaste een kon hy nie meer dié hondespesie se kort leeftyd en hondehare wat uitval hanteer nie.

“Ek het toe ʼn magdom navorsing gedoen totdat ʼn vriend my aangesê het om ʼn poedel te koop,” vertel Van Huyssteen. “Nou ja, dis toe dat ek my eerste poedel gekry het en sy naam is ‘Hoekom’.”

Van Huyssteen vertel dat ‘hoekom’ ʼn unieke Afrikaanse woord is wat nie in Nederlands of ander Germaanse tale bestaan nie. Hy meen dis nie nét ʼn woord nie – dit speel ook ʼn belangrike rol in sy eie lewe.

“Ek aanvaar nie net goed vir wat dit is nie,” vertel hy. “Ek wil altyd weet waar iets vandaan kom.”

ʼn Jaar later het hy ‘Sommer’, ʼn miniatuurpoedel, bygekry en geredeneer dat dit die logiese naam vir ʼn tweede hond is.

“Hulle is sulke woordjiehonde wat deur jou kyk en dis amper asof hulle woorde wil verstaan.”

(Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook)

Afrikaans, sukses en titels

Ongeveer dertig jaar ná hy begin studeer het, verdien Van Huyssteen nou daagliks sy brood en botter in Afrikaans. Hoewel sy siening van die taal sedertdien drasties verander het, is hy steeds passievol oor sy werk.

“Afrikaans verander voortdurend en ek het dit nooit besef nie,” vertel Van Huyssteen. Hy dink terug aan die tyd toe hy oor ʼn onderwerp vir sy meestersgraad moes besluit en taalverandering nie eers oorweeg is nie omdat dit gewoon te vervelig is.

“Ek verstaan nóú die taal as geheel beter,” meen Van Huyssteen. “Ek verstaan iets meer van wat dit is, waar dit vandaan kom, hoe taal in mense se koppe werk, en so aan.”

Van Huyssteen vertel met oorgawe dat hy na soveel jaar nog nie verveeld is met die taal of sy loopbaan nie. Oor die vraag of hy homself as suksesvol beskou, antwoord hy soos volg: “ʼn Persoon se antwoord op die vraag sê baie van sy of haar karakter.”

Hy tref onderskeid tussen persoonlike en professionele sukses en meen dat albei harde werk verg.

“As jy hard gewerk het, dan is jy suksesvol,” meen Van Huyssteen.

“Ek is vyftig jaar oud en ek dink ek is persoonlik suksesvol omdat elke dag se werk 24-uur van die dag nog vir my lekker is.” Hy voeg by, “As ek vakansie gaan hou, is dit eintlik vir my ʼn straf, want ek is weg van dit wat vir my lekker is om te doen.”

Van Huyssteen strewe voortdurend daarna om dit waarvoor hy homself beywer by mense uit te bring.

“Ek vra myself gedurig af of dit wat ek doen op een of ander manier van nut is en hoe ek dit by mense kan uitbring. Dis hoekom ek besig is om speltoetsers en ʼn televisieprogram oor taal te maak.”

Op dié manier word Van Huyssteen se vakgebied op toeganklike wyse aan Jan Alleman gebied. Hoewel dié taalman voetspore in die Afrikaanse taal agterlaat, is hy onopgesmuk en min gepla met hoogdrawendheid.

“Ek háát dit,” erken hy oor die gebruik van titels en aanspreekvorme. “Maar ek dink daar is iets wat ek meer in die lewe haat en dis mense wat dink dat hulle belangrik is.”

Van Huyssteen se bydrae tot die Afrikaanse taal is blywend en kragtig. Hy trap daagliks diep spore in Afrikaanssprekendes se lewens, maar wanneer hy tuis en tussen sy eie mense is, is daar nie sprake van vernaamheid nie.

“Ek het nie vriende of familie wat dink hulle is belangrik nie. En net as jy dink dat jy belangrik is, dan snoei hulle jou vlerke met humor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Realis

Aangename berig! Voel net soos Gerhard! Kan ook nie hoogdrawendheid hanteer nie! Irreteer my geweldig!

Erwee

Dis manne en vroue soos hierdie wat finansieel deur die privaat sektor ondersteun moet word dat hulle as pioniers die nuwe geslag opgewonde kan maak oor Afrikaans en dat daar studie-beurse beskikbaar gemaak kan word vir die jonges om die “aangee-stokkie” by hierdie pioniers oor te vat.

Hannah

Heerlik gelees… sout van die aarde! Sien uit na die speltoetser!

Z

André André
?
Ek het gaan kyk na die artikel oor vloektaal en daar is jy André Chris.
Wat het intussen gebeur?

Gerhard. Jy doen wonderlike werk interessant dat jy die gebruik van taal-tegnologie gebruik in jou navorsing. Julle slim mense is ons altyd n stappie vooruit.

bokka

‘n Kleintjie dood aan iets, nie ‘n baba dood aan iets nie.