Groot belangstelling in US Woordfees-bundel

Argieffoto

Argieffoto

Byna twee keer soveel inskrywings is ontvang vir die US Woordfees se kortverhaalkompetisie vir 2017 as vir die bundel se eerste uitgawe in 2016.

Meer as 180 persone het vir dié opwindende kompetisie ingeskryf.

Die skrywer van die wenverhaal ontvang R30 000 prysgeld, geborg deur Du Toitskloof-wyne. Die wenverhaal word aangekondig tydens die US Woordfees, wat van 3 tot 12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied word. Die 2017-bundel word ook by die Woordfees bekendgestel.

Die inskrywings, wat deur ’n onafhanklike ouditeursfirma ontvang is, sal nou aan die keuringspaneel gestuur word vir die volgende ronde. Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal vroeg in 2017 in kennis gestel word.

Hierdie nuwe fase hoop om die beeld van die kortverhaal, as ‘kleinsus van die roman’, reg te stel, sê Madri Victor, koördineerder van die projek. “Die fokus bly, soos altyd, op verhale van hoë gehalte. Die 2017-bundel gaan beslis iets wees om na uit te sien – vir skrywers en lesers.”

“Die prysgeld van Du Toitskloof maak die kortverhaalkompetisie een van die mees gesogte pryse vir korter literêre werk,” verduidelik Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur oor die goeie reaksie van deelnemers. “Ons glo dat ons uiteindelik ’n bundel kan saamstel van diverse, hoë kwaliteit verhale wat ook nuwe stemme insluit.”

Volgens Marius Louw, uitvoerende hoof van Du Toitskloof-wyne, is hul betrokkenheid by die kompetisie ’n uitvloeisel van die wynkelder se SA Wynskrywer-kompetisie wat sedert 2013 gehou word. “Du Toitskloof Wyne het die afgelope paar jaar in verskeie hoedanighede nou saamgewerk met die US Woordfees,” het hy gesê. “Die idee om die US Woordfees te help om blinknuwe Afrikaanse kortverhale te soek, verleen ’n nuwe dimensie aan die wynbedryf se betrokkenheid by die letterkunde en kultuur.”

Louw meen die belangstelling is oorweldigend. “Dit is ‘n aanduiding van die kreatiewe vlam wat helder onder gepubliseerde en ongepubliseerde skrywers brand. Du Toitskloof-wyne sien uit om deel te wees van hierdie vername element van die Woordfees en glo dat die inskrywing ‘n bydrae sal lewer tot die Afrikaanse letterkunde.”

Sowat 90 verhale is voorgelê vir moontlike insluiting in die 2016-bundel.

Die US Woordfees word van 3 tot 12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram word op 17 November bekendgestel.
Besoek die Woordfees se webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.