Groot name in Afrikaans vereer

Dr. Danie Langner(Foto: Maroela Media/Janie du Plessis)

Die FAK het Dinsdag sy jaarlikse Prestige-aand gehou waartydens daar hulde gebring is aan rolspelers wat oor die jare heen ʼn positiewe bydrae gelewer het tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Dié geleentheid het saam met die 500ste herdenking van die Hervorming (ook bekend as die Reformasie) plaasgevind.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het tydens die geleentheid gesê die Afrikaanse kultuur word gekenmerk deur ʼn mens se eie kulturele identiteit, die geleentheid om woorde, inhoud en wysheid in jou eie taal te kan bekom, verantwoordelikheid om volgens die Woord te leef, en dankbaarheid vir wat die Here vir ons gee en vir ons beloof het.

Langner het gesê ’n FAK-toekenning is nie iets waarvoor iemand kan aansoek doen nie, maar eerder ʼn toekenning van dankbaarheid. “Dankbaarheid vir dié mense wat deur dienswerk hul verantwoordelikheid teenoor hul gemeenskap, taal en kultuur nakom.”

Flip Buys (Foto: Maroela Media/Janie du Plessis)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ʼn FAK Prestige-toekenning gekry vir uitnemende leierskap. Hy het alle dank aan goeie kollegas gegee. “Hulle werk nie net om te leef nie, maar hulle leef ook om te werk. Vir my gaan geluk nie oor prestasie nie, maar oor verhoudings,” het hy gesê.

Die skrywer dr. Abraham de Vries het die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur ontvang. De Vries het beskeie die toekenning aanvaar en gesê hy “voel klein teenoor vorige wenners”.

“Ek dink dit is ʼn groot eer, en dalk eerder ʼn baie welkome fout,” het hy skertsend laat hoor.

Oor Afrikaans het De Vries gesê: “Dit is ʼn taal waaroor mense in ander lande net kan droom, en ʼn taal wat sal bly voortleef solank daar mense is wat dit praat.”

Prof. Irma Eloff (Foto: Maroela Media/Janie du Plessis)

Prof. Irma Eloff is vereer vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding, met die HB en MJ Thom Prestige-toekenning. Sy het die belangrikheid van onderwys in Afrikaans uitgelig.

“Dis baie maklik om te sê onderwys is belangrik, maar ons dade moet dit wys. Ek is baie dankbaar vir Suid-Afrika waar rasionele denke om ʼn onderwyser te word seëvier,” het sy gesê.

Laastens is die FAK Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaans in die media aan Johanna van Eeden, hoofredakteur van Netwerk24, Die Burger, Beeld en Volksblad gegee. Sy het die vraag oor of Afrikaans dood is, aangeraak.

“Afrikaans is soos ʼn tuin,” het sy gesê. “Elkeen van ons het ʼn stukkie bedding. Sommige mense s’n is mooi netjies omgeploeg en ander is sommer lekker rof en onbeskof. Ek is nog nie gereed om ʼn graf vir Afrikaans te grawe nie. Ek het nog ʼn akkertjie om te bewerk, en ek hoop jy doen dit saam met my.”

Chris Chameleon en Liezel Pieters het die gehoor vermaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miekie ·

Hoekom is die foto’s van so aard dat mens nie kan sien nie

sl ·

hoe kan julle op die reformasie roem as jul al vir mense wat direk Christus se Godhied geloén het ñ toekenning gegee het, wat lynreg teen reformasie is. bv. Lina Spies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.