Grootste akademiese prys in Afrikaans toegeken

Jan H Marais-standbeeld by Universiteit Stellenbosch. Beeldhouer: Coert Steynberg (Foto: Vysotsky via Wikimedia Commons)

Die mees omvangryke Afrikaanse akademiese prys word vanjaar weer tussen twee akademici verdeel.

Die Jan H Maraisprys van ‘n halfmiljoen rand gaan vanjaar gedeel word deur prof. Christo van Rensburg, taalkundige voorheen van die Universiteit van Pretoria en tans van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, en prof. Marinus Wiechers, regskenner en oudrektor van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

By navraag het die voorsitter van die keurkomitee en voormalige rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Andreas van Wyk, verduidelik die dubbeldoorwenners is die gevolg van die voortreflike peil van vanjaar se nominasies.

Benewens R250 000 kry Wiechers en Van Rensburg ook elk ‘n bronsbeeld deur Coert Steynberg, voormalige skoonvader van prof. Wiechers.

Die keurkomitee het bestaan uit prof. Van Wyk, prof. Christoff Heyns van die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit, prof. Piet Steyn, afgetrede hoof van navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, dr. Johan van Zyl, vorige rektor van die Universiteit van Pretoria en tans voorsitter van Sanlam, en prof. Hennie van Coller, emeritus uitstaande professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat.

Van Wyk het gesê Van Rensburg word vereer vir ‘n loopbaan in diens van Afrikaans en sy historiese variëteite. Hy het baanbrekende werk verrig oor die herkoms van Afrikaans, in besonder die invloed van Khoi-Afrikaans.

Wiechers het op sy beurt die weg gebaan vir erkenning van die administratiefreg as ‘n sleutelonderdeel van die Suid-Afrikaanse reg. “Sy seminale werk het ‘n model van die Franse administratiefreg in Suid-Afrika nagevolg waardeur hy ‘n nog immer beduidende bydrae tot die nuwe bedeling in Suid-Afrika gemaak het,” het Van Wyk bygevoeg.

Die Jan H. Marais-prys is ‘n huldeblyk aan Jan H. Marais van Stellenbosch wat sy fortuin in 1915 bemaak het vir die bevordering van Afrikaans en die welsyn van Stellenbosch. Dit is die grootste prys van sy aard in Suid-Afrika.

Die toekennings sal op 30 Mei 2018 by ‘n glansdinee te Stellenbosch oorhandig word.

Prof. Jaap Steyn en prof. Jan van der Watt het die prys in 2017 gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.