HAT herleef die jaar in woorde

Die HAT se woorde vir 2016 (Foto: HAT)

Die HAT se woorde vir 2016 (Foto: HAT)

Water, #MustFall, mediasirkus, staatskaping…. Woorde vang ʼn tydsgees vas en daarom het die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) vanjaar weer sý woorde vir 2016 bekendgemaak – ʼn lys waaruit ʼn mens as’t ware ʼn prentjie van die afgelope jaar kan aflees.

Benewens dié woorde wat almal iets van die jaar 2016 vasvang, het die HAT ook vanjaar weer ʼn woord van die jaar aangekondig: epogwisseling, as die oorgang van een tydvak na die volgende, oftewel tydvakwisseling.

Maar wat is van die opspraakwekkendste temas wat vanjaar in Suid-Afrika heelwat mediadekking geniet het en neerslag gevind het in gesprekke tussen vriende? Dit lyk na Suid-Afrika se waterskaarste; betogende studente met plakkate wat jil #FeesMustFall en ʼn inploffing wat voortduur op vele terreine, onder meer in die parlement, die onderwys en selfs in krieket.

Hier is ʼn paar voorbeelde van die HAT se gewildste woorde vir 2016:

  • superbakterieë (In Augustus het die VN se algemene vergadering in ʼn buitengewone verklaring superbakterieë, waarteen gewone antibiotika nie meer effektief is nie, die stryd aangesê).
  • sterkapsules (In die toekoms sal pasiënte ook ander langwerkende middels in sterkapsules kan inneem).
  • populisme (Die onvermoë van ekonomieë om werk te skep; ongelykhede en durende armoede laat op voetsoolvlak nuwe kragte woel van populisme teen elitisme).
  • mediasirkus en #MustFall (In SA is die #MustFall-bewegings nog lank nie verby nie; baie kan en moet nog val. Nes verlede jaar het die een na die ander mediasirkus ons vermaak en ontstel).
  • klikaas en wolhaarstories (Media maak hulle dikwels skuldig aan stories wat in wese klikaas is en vertel dan baie wolhaarstories)
  • terreur en ontheemdes (Terwyl terreur die wêreld ruk en miljoene ontheemdes oor die aarde swerf; miljoene kinders geen geborgenheid ken nie).
  • ontnugtering (met betrekking tot populisme, #MustFall is ontnugtering aan die orde van die dag)

Vir ʼn volledige lys woorde besoek die HAT se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.